Spring na inhoud

2 APRIL 2019
KAZAKSTAN

Jehovah se Getuies hou ope dae in Kazakstan

Jehovah se Getuies hou ope dae in Kazakstan

Van 11 Mei tot 10 November 2018 het Jehovah se Getuies in Kazakstan sewe ope dae gehou en hulle bure genooi om Koninkryksale in verskillende stede regdeur die land te besoek. Dit het dit moontlik gemaak vir regeringsamptenare, joernaliste, geleerdes en die publiek om meer oor Jehovah se Getuies te leer. Altesaam het meer as 1 500 mense dit bygewoon.

Plekke waar die ope dae gehou is: (1) Öskemen, (2) Qaraghandy, (3) Qostanay, (4) Semey, (5) Shymkent, (6) Taldyqorghan en (7) Taraz.

Die ope dae is gehou by Koninkryksale in die stede Öskemen, Qaraghandy, Qostanay, Semey, Shymkent, Taldyqorghan en Taraz. Mense wat dit bygewoon het, kon na kaarte en foto’s kyk wat die geskiedenis verduidelik het van ons bedrywighede in Kazakstan, wat al in 1892 begin het. Uitstallings het ook gewys wat Jehovah se Getuies die afgelope paar jaar gedoen het. Byvoorbeeld, in 2014 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Kazaks uitgegee.

Broer Bekzat Smagulov, wat by die Regsafdeling en Openbare Inligtingsafdeling van die takkantoor in Kazakstan werk, sê oor die voordele: “Die mense wat hierdie ope dae bygewoon het, het dit regtig geniet en dit het hulle gehelp om beter te verstaan wie ons is. Van die mense wat dit besoek het, was amptenare van die Departement van Godsdienssake en joernaliste van die nuusagentskap Kazakstan-Öskemen en die koerante Rudnyi Altai en Semei Vesti.”

By die ope dag in Taldyqorghan, die hoofstad van die streek Almaty, het die broers die hoof van die Streekdepartement van Godsdienssake en twee ander amptenare van die departement verwelkom. Die hoofredakteur van die koerant Zhetysu Dialog was ook daar en het later ’n artikel gepubliseer oor onderhoude wat hy met ’n paar vrywilligers by die ope dag gevoer het.

Ons broers en susters het ook meer as 560 kopieë van die Nuwe Wêreld-vertaling uitgegee in Kazaks en Russies, die hooftale van Kazakstan. Ons waardeer die goeie resultate van hierdie reëling, wat die eer gee aan Jehovah en ons bure die geleentheid gee om ons “goeie werke” te sien. – Matteus 5:16.

 

In Qaraghandy gebruik suster Saniya Akhmetzhanova gebaretaal om vir ’n dowe paartjie te verduidelik hoe ons Bybelonderrigting aan dowe mense voorsien.

Twee jong kinders kyk na die video Beskerm jou kinders in Russies by die ope dag in Qaraghandy.

Broer Lev Gladyshev verduidelik die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Kazakstan aan amptenare wat die ope dag in Qaraghandy bygewoon het. Dit het die volgende mense ingesluit: Die sekretaris van die plaaslike parlement, Kudaibergen Beksultanov; die hoofkenner van die Departement vir Ontleding van die Godsdienssituasie, Nikolay Sarsenbayev; en die hoof van die Departement van Godsdienssake in die streek Qaraghandy, Nurlan Bikenov.

Suster Aisha Yakovleva verduidelik die verskillende kenmerke van die app JW Library® aan ’n paartjie wat die ope dag in Taldyqorghan besoek het.

Broer Aleksey Alyoshin wys vir besoekers by die ope dag in Taraz hoe God se naam regdeur die geskiedenis in letterkundige werke en op verskillende geskiedkundige voorwerpe voorgekom het.

By die ope dag in Öskemen hou broer Sergey Petkevich ’n ouer weergawe van Die Wagtoring in Russies vas terwyl hy die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Kazakstan verduidelik. Een van die gaste wat die ope dag bygewoon het, is Sergey Lebedev, die hoof van die openbare vereniging Edinstvo.

Broer Georgiy Pismenoy (regs) praat met ’n buurvrou by die ope dag in Qostanay. Die mense wat dit bygewoon het, kon na ’n video van ’n verhoor in 1982 kyk. Drie broers en een suster van Qostanay is skuldig bevind van die besitting, produsering en verspreiding van ons lektuur, wat destyds verban was. Broer Pismenoy is een van die drie broers wat gevonnis is tot twee en ’n half jaar se dwangarbeid. Hy het sy ondervindinge terwyl hy in die tronk was, met die besoekers gedeel.

By die ope dag in Shymkent is besoekers verwelkom deur musikante wat musiekinstrumente gespeel het, insluitende die Kazakse dombra (heel links en heel regs in die foto).

Broers en susters wat as vrywilligers gehelp het met die ope dag in Qaraghandy.