Spring na inhoud

6 JULIE 2017
KAZAKSTAN

Kazakstan stop bedrywighede van Getuies se takkantoor

Kazakstan stop bedrywighede van Getuies se takkantoor

Op 29 Junie 2017 het ’n hof in Almaty, Kazakstan, die Christensentrum van Jehovah se Getuies in Kazakstan (Sentrum) beboet en al hulle bedrywighede stopgesit vir ’n tydperk van drie maande. Die hof se beslissing is gebaseer op ’n inspeksie waarin daar beweer word dat die Sentrum te min veiligheidskameras het. Al was daar reeds 25 kameras geïnstalleer, was daar volgens die inspeksie nog drie kameras nodig om aan die vereistes van die wetgewing in verband met openbare plekke te voldoen. Maar op 6 Februarie 2017 het staatsamptenare alreeds ’n amptelike plan vir die eiendom van die Sentrum goedgekeur, wat wys waar al die veiligheidskameras geïnstalleer is. Deur hierdie amptelike plan goed te keur het die staatsamptenare bevestig dat die Sentrum aan die nodige wetlike vereistes voldoen.

Polat Bekzhan, die voorsitter van die Sentrum, het gesê: “Die besluit om die Sentrum se bedrywighede stop te sit, is ’n buitengewone swaar straf vir hierdie beweerde oortreding. Ons appelleer hierdie beslissing, wat blykbaar deur godsdiensonverdraagsaamheid gemotiveer is.”

Amptelike inmenging met die Sentrum se bedrywighede

Jehovah se Getuies in Kazakstan word al hoe meer deur wetstoepassingsbeamptes geteister. Voordat die beslissing op 29 Junie in ’n spesiale administratiewe hof deur regter N. M. Pakirdinov gelewer is, het die owerheid die Sentrum op 17 Mei deursoek deur voor te gee dat hulle ’n veiligheidsinspeksie doen. Die skynbare inspeksie was helder oordag gedoen deur meer as 30 beamptes van die Staat se Nasionale Veiligheidsdiens (voorheen bekend as die KGB). Party van die beamptes het maskers gedra en het masjiengewere gehad. Hulle het beweer dat hulle ’n bevel uitvoer om inspeksies op openbare plekke te doen en seker te maak dat dit veilig is voordat Expo 2017 in Junie 2017 in die hoofstad, Astana, begin.

Die Sentrum word op 17 Mei 2017 deursoek

Van 23 tot 25 Junie 2017 het Jehovah se Getuies ’n driedaagse spesiale byeenkoms gehou wat deur afgevaardigdes van die Verenigde State, Europa, die Oekraïne, Georgië, Kirgistan en ander lande bygewoon is. Maar voordat die byeenkoms kon plaasvind, het die owerheid met die kontrakte vir die byeenkomsplekke ingemeng en die kontrakte is toe gekanselleer. As gevolg hiervan het die 1 500 afgevaardigdes saam met die plaaslike Getuies die byeenkoms by die Sentrum se gronde gehou.

Op 23 Junie 2017 is buitelandse afgevaardigdes wat ’n byeenkoms kom bywoon het, deur polisie opgehou

Op die eerste dag van die byeenkoms het die polisie voorgegee dat hulle busbestuurders se dokumentasie wou nagaan. Dit het veroorsaak dat die polisie 11 busse en omtrent 500 buitelandse afgevaardigdes twee uur lank by hulle hotelle opgehou het. Op die tweede dag het die polisie weer voorgegee dat hulle die busbestuurders se dokumentasie wil nagaan en hierdie keer 20 busse met 900 afgevaardigdes drie uur lank by hulle hotelle opgehou.

Die Sentrum het ’n klag by die kantoor van die aanklaer in Almaty ingedien. Hoewel die aanklaer se kantoor nie hierop gereageer het nie, het die polisie nie die Getuies op die derde dag van die byeenkoms gepla nie. Maar net vier dae ná die byeenkoms het die administratiewe hof in Almaty sy uitspraak gelewer om die Sentrum se bedrywighede stop te sit.

Die wet word gebruik om moeilikheid te maak

Vanaf Desember 2012 het die regering van Kazakstan die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies regoor die land al hoe meer beperk. Die regering het meer as 60 Getuies van Jehovah swaar beboet omdat hulle aan ongeregistreerde “sendingwerk” deelgeneem het.

In Januarie 2017 het die owerheid in Kazakstan twee kriminele sake teen Jehovah se Getuies gemaak omdat hulle met ander oor hulle godsdiensoortuigings gepraat het. In Mei is Teymur Akhmedov op grond van sy godsdiensbedrywighede skuldig bevind en hy dien op die oomblik ’n tronkvonnis van vyf jaar uit. In ’n ander saak is die polisie besig om ’n Getuie te ondersoek op aanklag van aanhitsing tot godsdienshaat omdat hy vir iemand ’n godsdienspublikasie, wat deur die Russiese owerheid as “ekstremisties” verklaar is, aangebied het.

Sal Kazakstan Rusland navolg in optrede teen Jehovah se Getuies?

Hoewel die Getuies ’n paar keer met die Komitee van Godsdienssake gepraat het oor die reg om vryelik te aanbid, kon hulle nie veel uitgerig kry nie. Toe die kantoor van die aanklaer (GPO) daarop aangedring het, het die hooggeregshof van Kazakstan die saak van Andrey Korolyov opgeneem. Hy is ’n Getuie van Jehovah wat skuldig bevind is omdat hy met ander oor sy godsdiensoortuigings gepraat het. In die beslissing van 1 Junie 2017 het die hof mnr. Korolyov vrygespreek en erken dat die reg op godsdiensvryheid ’n persoon beskerm wat op ’n vreedsame manier met ander oor sy of haar godsdiensoortuigings praat. Al het die GPO die Getuies daarvan verseker dat hulle die gunstige beslissing sal sirkuleer, weier die laer howe nog steeds om die beslissing toe te pas, en word Jehovah se Getuies nog steeds skuldig bevind aan “ongeregistreerde sendingwerk”.

Gregory Allen, ’n regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Dit is baie jammer om te sien dat Kazakstan Rusland navolg en ongegronde aanklagte gebruik om in te meng met die internasionaal erkende reg op godsdiensvryheid. Ons is bevrees dat die beslissing van 29 Junie wat die Sentrum se bedrywighede stopgesit het, baie ernstiger is as wat dit lyk. Ons wil graag hê dat reg moet geskied in ons appèl teen hierdie inmenging.”

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is bekommerd oor hierdie onlangse gebeure omdat dit lyk asof hulle mede-gelowiges in Kazakstan deur die owerheid verban gaan word net soos in Rusland.