Spring na inhoud

17 JANUARIE 2018
KAZAKSTAN

VN se Menseregtekomitee versoek Kazakstan om namens Teymur Akhmedov op te tree

VN se Menseregtekomitee versoek Kazakstan om namens Teymur Akhmedov op te tree

Die VN se Menseregtekomitee het gou gereageer op ’n klagte wat op 3 Januarie 2018 namens Teymur Akhmedov ingedien is. Mnr. Akhmedov is al amper ’n jaar lank onregverdig in die tronk. Hy is 61 jaar oud en glad nie gesond nie. Die howe in Kazakstan het mnr. Akhmedov se appèlaansoeke verwerp en die beslissing om hom skuldig te bevind aan onwettige godsdiensbedrywighede, bevestig. Daarom het hy die Komitee vir hulp gevra.

Op 9 Januarie 2018 het die Komitee vir Kazakstan aangeraai om iets te doen sodat mnr. Akhmedov intussen beter behandel word. Die Komitee het hierdie versoek gemaak selfs voordat hulle ’n beslissing oor sy klagte bereik het. Hulle vra dat die owerheid “so gou as moontlik seker moet maak dat [mnr. Akhmedov] die nodige mediese behandeling kry en dat die toestande waarin hy aangehou word, heeltemal ooreenstem met [die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte] en internasionale standaarde”. Die Komitee vra ook dat die owerheid “dit moet oorweeg om [hom] vry te laat as gevolg van sy gesondheid of om hom onder huisarres te sit totdat die Komitee ’n beslissing oor sy klagte bereik het”.

Die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting stem saam met hierdie versoek om iets te doen omtrent die manier waarop mnr. Akhmedov behandel word. Die Werkende Groep het in Oktober 2017 mnr. Akhmedov se klagte ondersoek en beslis dat sy aanhouding arbitrêr is en dat die owerheid hom moet vrylaat en vergoed vir die onregverdige behandeling. Hoewel die Werkende Groep die regering van Kazakstan se optrede veroordeel het, het die regering hulle tot nou toe geïgnoreer. Mnr. Akhmedov is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis waarvan hy byna een jaar uitgedien het.