6 JUNIE 2018
KAZAKSTAN
441 dae in die tronk — ’n Onderhoud met Teymur en Mafiza Akhmedov
Nadat broer Teymur Akhmedov deur die president van Kazakstan, Nursultan Nazarbayev, vrygespreek is, is hy op 4 April 2018 vrygelaat. Hy was altesaam 441 dae in die tronk. Die owerheid het hom gearresteer net omdat hy met ander oor sy godsdiensoortuigings gepraat het.
Kort nadat Teymur uit die tronk vrygelaat is, het die Kantoor van Openbare Inligting (OPI) by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, met hom en sy vrou, Mafiza, gepraat. Hulle is nou weer terug by hulle huis in Astana, die hoofstad van Kazakstan. Hier volg hulle gesprek. ’n Paar veranderinge is gemaak om dit korter en duideliker te maak.
OPI: Om mee te begin wil ons graag meer oor jou weet, broer Akhmedov. Wanneer het jy een van Jehovah se Getuies geword?
Teymur Akhmedov: Ek is op 9 Oktober 2005 gedoop. Voordat ek die waarheid geleer het, was ek ’n ateïs. Ek het baie jare lank in niks of niemand geglo nie. Later, toe my vrou begin studeer het, was ek nuuskierig oor die besprekings wat sy met die Getuies gehad het. Ek het altyd agter die deur gestaan en hulle gesprekke afgeluister.
Toe ek uitgevind het wat hulle studeer, het ek baie belanggestel omdat hulle net oor goeie dinge gepraat het. Uiteindelik het die Getuies my aan broer Veslav voorgestel. Hy was oorspronklik van Pole, maar hy het in Kazakstan gedien. Gedurende ons eerste bespreking het ek vir hom gesê: ‘Ek gaan jou net een vraag vra. As ek tevrede is met jou antwoord, dan kan ons vriende wees en aangaan met ons besprekings. Maar as ek nie van jou antwoord hou nie, moet jy nie sleg voel as ek nie verder wil gaan met ons besprekings nie.’ Ek het broer Veslav toe gevra wat met ons gebeur wanneer ons sterf. Hy het die Bybel by Prediker 9:5 oopgemaak en gesê: ‘Lees hierdie vers, en dan sal jy weet wat gebeur.’ Toe ek die vers lees, het ek besef dat dit die waarheid is. Ek het ingestem om hom weer te sien en die Bybel te studeer.
Jy het toe die Bybel studeer en is uiteindelik in 2005 gedoop.
Nou kom ons bespreek wat gebeur het voordat jy gearresteer is. In Mei 2016 het jy ’n groep mans ontmoet wat gesê het dat hulle belangstel in wat Jehovah se Getuies glo. Oor ’n paar maande het jy ’n paar keer die Bybel met hierdie mans bespreek. Wanneer jy terugdink aan daardie gesprekke, was daar enigiets wat hulle gesê of gedoen het wat vir jou vreemd was?
TA: Ja, ek het genoem dat Bybelstudies gewoonlik met individue gehou word, eerder as met ’n groep mense. Ek het voorgestel dat hulle apart moet studeer, maar elke keer het hulle geweier en gesê dat hulle van die groepbesprekings hou. Hulle het ook meer as een keer ander mense genooi om in te sit op ons studie en my gevra om te herhaal wat ons op ’n vorige besoek bespreek het.
Mafiza Akhmedov: Eenkeer het ek ook na die Bybelstudie gegaan. Ek het opgelet dat hulle verskillende godsdienste bespreek, al het hulle ’n hele rukkie studeer. Ek het ook opgelet dat die woonstel waarin hulle woon, duurder was as wat die meeste studente kon bekostig. Ek het vir hulle gesê dat hulle darem maar ryk is vir studente. Wat ek gesê het, het hulle ongemaklik gemaak. Toe ons geloop het, het hulle Teymur eenkant toe geroep en, terwyl ek buite gewag het, het hulle vir hom gesê om my nie weer saam te bring na die studie toe nie.
Wanneer het jy uitgevind dat die mans met wie jy studeer het, nie regtig in Jehovah se Getuies belanggestel het nie, maar eintlik vir Kazakstan se geheime polisie, die Nasionale Veiligheidskomitee (KNB), gewerk het?
TA: Ek het eers in die hof uitgevind dat hulle saam met die KNB werk.
Wat was jou reaksie toe jy gearresteer is en toe later aangekla is dat jy haat teenoor ander godsdienste aangemoedig het en ander geleer het dat jou godsdiens die beste is?
TA: Toe ek gearresteer is, het ek eerlikwaar gedink dat hulle my na die polisiestasie toe sal vat, soos hulle gesê het, sodat ek kon verduidelik wat ek gedoen het en dan weer vrygelaat sal word. Ek was reg om myself te verdedig en te verduidelik wat ek met hulle bespreek het.
Ek was nogal verbaas deur wat toe gebeur het, maar ek was nie bang nie. Die aanklagte dat ek godsdienshaat en ekstremisme bevorder het, het my onkant gevang. Jehovah se Getuies is mense wat vir ander mense van Jehovah vertel en is nog nooit met haat of verdeeldheid geassosieer nie. Ek was vas oortuig dat ek onskuldig is en dat Jehovah my sou ondersteun. Ek was wel bekommerd, maar ek het die raad in die Bybel onthou: “Terwyl julle al julle sorge op hom [Jehovah] werp, want hy sorg vir julle.” — 1 Petrus 5:7.
Later, op 2 Mei 2017, nadat jy drie maande lank in aanhouding was voor jou verhoor, het ’n streekhof in Astana jou tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en jou verbied om ’n verdere drie jaar deel te neem aan Bybelonderrigtingsbedrywighede. Hoe het hierdie beslissing jou geraak?
TA: Toe die hof hierdie beslissing gelewer het, het ek die feit aanvaar dat ek die volle tronkstraf sal moet uitdien as dit nodig is. My gesindheid was: ‘As dit ’n toets is, dan is Jehovah in beheer van hoe lank dit sal aanhou en hy weet wanneer dit sal eindig.’ Ek was vasbeslote om so lank as nodig te wag.
Maar ons weet dat toe jy tronk toe is, het jy gesukkel met ’n ernstige gesondheidsprobleem. Was dit so?
TA: Ja, ek was siek en het vir behandeling gegaan voordat ek tronk toe is. Toe ek gearresteer is, het my behandelings opgehou en my siekte het erger geword.
Mafiza, hoe het jy gedurende hierdie tyd gevoel?
MA: Ek was baie bang en depressief. Dit was selfs vir my moeilik om besluite te maak nadat Teymur tronk toe is, want vir die 38 jaar wat ons getroud is, was ons nog nooit weg van mekaar nie. Maar Teymur het my vertroos en gesê: ‘Moenie jou bekommer nie! Jehovah sal hierdie 5 jaar wat ons apart is, vervang met 25 jaar — selfs in hierdie stelsel van dinge!’
Wat het jou nog gehelp gedurende die tyd toe jou man in die tronk was?
MA: Die broers en susters het my regtig gehelp. Toe Teymur tronk toe is, het ek eerlikwaar gedink dat almal te bang sou wees om by my te kom kuier as gevolg van die omstandighede van Teymur se arrestasie. Die KNB het ons huis en bedrywighede dopgehou.
Toe het ’n ouer man en sy vrou my eendag kom besoek, en dit het my baie aangemoedig. Toe het ek hulle gevra: ‘Is julle nie bang om na my toe te kom nie?’ Hulle het geantwoord: ‘Hoekom moet ons bang wees? Deesdae kan die polisie ons deur ons selfone opspoor. So, as hulle wil, kan hulle ons maklik kry.’
Die ouer manne het my gedurende ’n herdersbesoek aangemoedig om nie toe te laat dat die toets my onderkry nie en om my geloof en verhouding met Jehovah te versterk.
Teymur, wat het jou gehelp om deur hierdie spesifieke toets te kom en om positief te bly?
TA: Gebed tot Jehovah! Ek het elke dag gebid vir leiding, begrip en krag sodat ek gelukkig, lojaal en getrou gedurende hierdie moeilike tyd kon bly. Hy het my gebede op duidelike maniere verhoor. Hy het my ondersteun, en ek het nie alleen in die tronk gevoel nie.
Bybellees het my ook gehelp. In een van die tronke was daar altyd ’n Bybel wat ek kon lees. In ’n ander tronk was die Bybel in die biblioteek gehou, en ek kon dit een keer ’n week gaan lees.
Ek het ook onthou wat die broer wat die Bybel met my studeer het, gesê het. Hy het altyd gesê dat ons nie moet bang wees vir die uitdagings waarvoor ons te staan kom nie. Ek onthou ek het hom gevra: ‘Hoekom moet ek nie bang wees nie? Sê nou die uitdaging is te moeilik en maak my bang?’ Hy het gesê dat Jehovah nie sal toelaat dat ons getoets word bo wat ons kan verdra nie en dat hy ons die krag sal gee om enige probleem te oorkom (1 Korintiërs 10:13). So, terwyl ek in die tronk was, het ek nooit daardie skriftuurlike gedagte vergeet nie.
Hoe het jy gevoel toe jy uitvind dat die broers bewus is van jou situasie en dat broers en susters regoor die wêreld vir jou bid?
TA: Ek het definitief gevoel dat dit Jehovah se hand is omdat die organisasie aan hom behoort. Dit het my verseker dat Jehovah my nie in die steek gelaat het nie en dat hy my eendag sal red.
Interessant genoeg, die ding wat my die bangste gemaak het, was om tronk toe te gaan. Ek was baie bang om tronk toe te gaan. Wanneer ek oor ons broers in die tronk gelees het, het ek vir Jehovah gebid: ‘Jehovah, asseblief, enigiets behalwe die tronk!’ Maar op dieselfde tyd wou ek baie graag mense in die tronk besoek en hulle oor die waarheid vertel. Toe ek gevra het of ek predikingswerk in die tronk kon doen, het die broers verduidelik dat ons nie toestemming op daardie oomblik gehad het om die tronke in Kazakstan te besoek nie. So toe ek tronk toe gestuur is, het ek gemengde gevoelens gehad. Aan die eenkant was ek bang. Maar aan die anderkant het ek gevoel dat my droom om vir mense in die tronk te preek, waar geword het.
Het jy kans gekry om te preek terwyl jy in die tronk was?
TA: Ja. Eenkeer het ’n polisiebeampte my gevra om na hom toe te kom, want hy wou met my praat. Toe ek by sy kantoor aankom, het hy gesê: ‘Ek weet dat jy een van Jehovah se Getuies is, so moenie eers daaraan dink om vir my te preek nie!’ Ek het toe gesê: ‘Ek was glad nie van plan om vir jou te preek nie.’ Toe vra hy: ‘Wat is God se naam?’ Ek sê toe: ‘God se naam is Jehovah.’ Hy sê toe verder: ‘Wie is Jesus dan? Is hy nie God nie?’ Ek het gesê: ‘Nee, hy is God se seun.’ Hy vra toe: ‘Nou hoekom glo Ortodokse Christene dan dat hy God is?’ En toe sê ek: ‘Jy sal hulle moet vra.’
By ’n ander geleentheid kon ek op dieselfde tyd met omtrent 40 of meer mense praat. ’n Sielkundige het die tronk besoek om die gevangenes te help. Ons het die huwelik bespreek toe sy vra wat ons daarvan dink as iemand met meer as een vrou trou. Almal het ’n kans gekry om te sê hoe hulle voel.
Toe dit my beurt was om te praat, het ek gesê dat ek nie ’n persoonlike opinie hieroor het nie, maar dat ek regtig hou van ’n ander persoon se opinie oor hierdie onderwerp, en ek wil dit graag deel. Toe sê ek: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word’ (Genesis 2:24). Die sielkundige het toe gevra: ‘Wie se opinie is dit?’ Ek het geantwoord: ‘Dit is die opinie van Jehovah God, die Skepper van die mens. Dit verwys net na twee mense, nie meer nie.’
Sy het toe gevra: ‘Het jy enige ander redes hoekom jy dink dat ’n man net een vrou moet hê?’ Ek het toe Matteus 7:12 vir haar genoem wat sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.” Toe sê ek: ‘Dit is Jesus se woorde. Vra asseblief een van hierdie mans wat hier in die saal sit of hulle hulle vrou met enigiemand sal wil deel. As ’n man nie wil hê dat sy vrou ’n ander man moet hê nie, dan wil ’n vrou natuurlik ook nie hê dat haar man baie ander vrouens moet hê nie.’ Die sielkundige het gesê dat sy die meeste van my antwoord gehou het.
Dit is baie aanmoedigend om te weet dat jy nog steeds geleenthede gekry het om vir ander te preek al het jy deur ’n moeilike tyd gegaan!
Nadat die hof jou appèlle om vrygelaat te word asook jou appèl aan die Hooggeregshof van Kazakstan verwerp het, het dit uit ’n wetlike oogpunt gelyk asof alle moontlike regstappe gedoen is.
Maar tog het jy ’n geleentheid gehad om vrygelaat te word as jy ’n dokument geteken het om te erken dat jy skuldig is. Sal jy ons vertel wat gebeur het en hoekom jy geweier het om dit te teken?
TA: Hulle het my eintlik ’n paar keer kans gegee om die dokument te teken. Alhoewel dit gelyk het asof hulle my wou help, was dit eintlik ’n dokument wat gesê het dat ek skuldig is aan die aanklag teen my en dat ek jammer is vir wat ek gedoen het. Later het hulle my gevra om my eie dokument op te stel waarin ek my skuld erken en vra om vrygelaat te word. Die owerheid het gesê dat ek in die dokument moes skryf dat dit ’n fout was om oor my geloof met ander te praat, maar dat ek nou jammer is oor wat ek gedoen het en dat ek vra om vrygelaat te word as gevolg van my gesondheid.
Ek het geweier om hierdie dokument te skryf en het vir die owerheid gesê dat ek eerder in die tronk sou sit met ’n skoon gewete as om vrygelaat te word met ’n skuldige gewete.
Ons waardeer regtig jou voorbeeld van geloof en die feit dat jy geweier het om iets te doen wat teen jou gewete gaan.
Uiteindelik het iets onverwags gebeur. Kan jy asseblief vir ons sê hoe jy uitgevind het dat jy vrygespreek en vrygelaat sou word?
TA: Eendag het ’n wag na my kamer toe gekom en my laat weet dat daar ’n oproep vir my is. Ek het gewonder: ‘Wie sou my dan bel?’ Toe ek die foon antwoord, het ’n vrou haarself voorgestel en gesê dat sy na die tronk toe sou kom om my te kom vrylaat. Ek het regtig nie geweet wat om hiervan te dink nie. Toe ons klaar gesels het, het ek besluit om my seun daarvan te vertel omdat ek nie my vrou met die nuus wou skok of vir haar valse hoop wou gee nie.
Nadat ek die foon neergesit het, het die wag vir my gevra: ‘Wat het hulle vir jou gesê?’ Ek het vir hom gesê dat iemand seker probeer om my om die bos te lei, want die vrou op die foon het vir my gesê dat sy na die tronk toe kom om my vry te laat.
Die wag het gesê dat dit nie ’n grap is nie en dat die vrou die waarheid praat.
Mafiza, hoe het jy oor hierdie opwindende nuus gevoel?
MA: Toe my seun my die nuus vertel het, het ek ook gedink dis ’n grap. Ons het so lank vir hierdie nuus gewag!
Ons kan ons net indink hoe julle moes gevoel het toe jy en Teymur ’n jaar ná hy gearresteer is, weer bymekaar was!
As jy nou terugkyk, wat het jy uit hierdie toets van jou geloof geleer?
MA: Ek onthou hoe ek oor broer Bahram [Hemdemof] en [suster] Goelzira Hemdemof se situasie gehuil het. [Broer Hemdemof is in Maart 2015 deur die owerheid in Turkmenistan gearresteer. Op 19 Mei 2015 is hy tot vier jaar tronkstraf gevonnis as gevolg van die valse aanklagte dat hy godsdienshaat bevorder het en hy is nog steeds in die tronk.] Selfs voordat Teymur gearresteer is, het ek gedink aan hoe moeilik dit vir Goelzira moet wees. Ek sal haar nou graag ’n drukkie wil gee en haar my warm liefde en ondersteuning wil stuur. Nadat ek nou deur hierdie uitdaging met Teymur is, wil ek vir haar sê dat ek haar pyn voel. Ek weet dat sy, soos ek, die ondersteuning van Jehovah en die broers nodig het.
Ek is baie dankbaar vir die broers wat ons ondersteun het, die broers in ons gemeente en al die gemeentes regoor die wêreld, die Bestuursliggaam, die regsgeleerdes en ons seuns.
TA: Ek kan net een ding sê. Almal gaan deur moeilike tye. Almal hoef natuurlik nie tronk toe te gaan nie. In party gevalle word iemand deur ’n ongelowige familielid teëgestaan. Ander sukkel dalk om met ’n moeilike broer of suster in die gemeente vriende te wees. Wat ook al ons uitdaging of toets is, ons elkeen het ’n keuse om God se beginsels te gehoorsaam of te ignoreer. As ons by die beginsels bly, sal dit ons help om deur die toets te kom. Die beste ding om te doen, is om ons toets te aanvaar en te onthou dat Jehovah ons die krag sal gee om dit te oorkom.
Ek wil baie dankie sê vir my familie en my seuns wat my ondersteun het. Hulle het elke kans gebruik om my te besoek, en dit het my gehelp om sterk te bly.
Ek wil ook dankie sê vir ons broers wêreldwyd vir alles wat hulle gedoen het. Ek het hulle gebede en hulle aanmoedigende briewe waardeer. Ek het nie vir een minuut gevoel dat hulle my weggegooi het nie. Wat met my gebeur het, het my liewer laat word vir my broers en my verhouding met Jehovah versterk.