Spring na inhoud

18 APRIL 2018
KAZAKSTAN

Teymur Akhmedov deur die president vrygespreek

Teymur Akhmedov deur die president vrygespreek

Op 2 April 2018 het die president van Kazakstan, Nursultan Nazarbayev, die 61-jarige Teymur Akhmedov, wat al meer as ’n jaar lank op valse aanklagtes in die tronk was, vrygespreek. Dit beteken dat hy nie meer ’n kriminele rekord sal hê nie. Mnr. Akhmedov het op 4 April uitgevind dat die president hom vrygespreek het. Hy is vrygelaat terwyl hy nog in die hospitaal was en herstel het van ’n operasie. Hy is nou weer saam met sy gesin en kan nou makliker die noodsaaklike mediese behandeling kry wat hy nodig het om teen kanker te veg.

Gearresteer, aangehou en onregverdig in die tronk

Mnr. Akhmedov, wat een van Jehovah se Getuies is, is op 18 Januarie 2017 gearresteer en in die tronk gesit net omdat hy met ander oor sy geloof gepraat het. ’n Hele paar maande voordat hy gearresteer is, het hy die Bybel met mans bespreek wat gemaak het asof hulle in die geloofsoortuigings van Jehovah se Getuies belangstel. Die mans het saam met Kazakstan se geheime polisie, die Nasionale Veiligheidskomitee (KNB), gewerk, en hulle het hulle gesprekke opgeneem sonder dat hy dit geweet het. Na aanleiding van hierdie opnames het die KNB mnr. Akhmedov gearresteer en hom beskuldig van “aanhitsing tot godsdiensverdeeldheid” en dat hy verkondig “dat [sy] godsdiens beter is as ander” onder Artikel 174(2) van Kazakstan se Strafwet.

Nadat mnr. Akhmedov gearresteer is, het die polisie hom ondervra en hom drie maande lank in aanhouding gesit voordat sy verhoor begin het. Op 2 Mei 2017 het die hof hom tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en hom ’n verdere drie jaar lank verbied om sy godsdiensbedrywighede uit te oefen.

Mnr. Akhmedov se prokureurs het meer as een appèlaansoek ingedien sodat hy vrygelaat kan word, maar die howe het al die versoeke verwerp. Nadat hy alle moontlike regstappe in Kazakstan geneem het, het hy na internasionale howe gegaan vir hulp. Hy het klagtes ingedien by die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) en die VN se Menseregtekomitee.

In Oktober 2017 het die WGAD Kazakstan veroordeel omdat hulle mnr. Akhmedov in die tronk gesit het. Hulle het die regering gevra om hom onmiddellik vry te laat, aangesien sy optrede “heeltemal vreedsaam en binne die perke van sy godsdiensvryheid is”. In Januarie 2018 het die Menseregtekomitee mnr. Akhmedov se dringende aansoek aanvaar en beveel dat Kazakstan intussen dadelik iets moet doen om seker te maak dat hy die nodige mediese behandeling kry. Die Menseregtekomitee het ook aanbeveel dat Kazakstan dit moet oorweeg om hom permanent vry te laat, afhangend van die finale beslissing in verband met sy klagte.

Uiteindelik vrygelaat

Teymur en Mafiza Akhmedov nadat hy vrygespreek is

Terwyl mnr. Akhmedov in die tronk was, het sy gesondheid aangehou om agteruit te gaan. Vroeër hierdie jaar het die dokters vir hom gesê dat hy dikdermkanker het en dat sy toestand al hoe erger word. As gevolg van die beslissing wat die Menseregtekomitee intussen gelewer het asook ander versoeke deur internasionale instansies, het amptenare in Kazakstan mnr. Akhmedov genooi om ’n versoek aan president Nazarbayev te stuur om te vra dat hy vrygespreek moet word.

Hy het sy aansoek op 5 Maart 2018 ingestuur en gevra dat dit dringend oorweeg moet word omdat hy dadelik behandeling nodig gehad het om te keer dat sy kanker verder versprei. Die tronkbeamptes het mnr. Akhmedov toe na Almaty, Kazakstan, oorgeplaas waar hy op 27 Maart 2018 ’n operasie ondergaan het.

Sal Kazakstan meer respek toon vir godsdiensvryheid?

Mnr. Akhmedov en sy vrou, Mafiza, en hulle kinders is bly dat hierdie nare ondervinding verby is. Hulle is dankbaar dat president Nazarbayev sy kriminele rekord verwyder het. As gevolg van die feit dat hy onwettig skuldig bevind is, het die regering sy bankrekening gevries, wat dinge verskriklik moeilik gemaak het vir sy vrou terwyl hy in die tronk was.

Jehovah se Getuies wêreldwyd hoop dat die feit dat mnr. Akhmedov vrygespreek is, toon dat Staatsamptenare in Kazakstan die Getuies nou sal toelaat om hulle vreedsame aanbidding met groter vryheid uit te oefen.