Spring na inhoud

22 FEBRUARIE 2018
KAZAKSTAN

Kazakstan se regering word gesmeek om Teymur Akhmedov vry te laat

Kazakstan se regering word gesmeek om Teymur Akhmedov vry te laat

Teymur Akhmedov se familie en vriende is al hoe meer bekommerd oor hom. Mnr. Akhmedov, een van Jehovah se Getuies, is 61 jaar oud, en hy het met sy gesondheid gesukkel selfs voordat hy meer as ’n jaar gelede in die tronk gesit is. Op 8 Februarie 2018 is twee gewasse deur ’n operasie verwyder, waarvan een kwaadaardig was. Sy familie en sy prokureurs het by die owerhede gepleit dat hy vrygelaat moet word omdat hulle bekommerd is oor die toestande in die tronk in Pavlodar en omdat hy verdere mediese sorg nodig het. Tot dusver is hulle geïgnoreer.

Die howe in Kazakstan het Teymur Akhmedov tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Dit is ’n wrede straf wat eers in 2022 verby sal wees. Mnr. Akhmedov het net sy reg op godsdiensvryheid uitgeoefen, maar hy is hiervoor gearresteer en deur die owerheid aangekla. Hulle het selfs sy naam op ’n lys gesit van mense wie se bankrekeninge geblok is omdat daar gedink word dat hulle bande met terrorisme het. Die howe in Kazakstan het alle appèlaansoeke verwerp.

Die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting het sy opinie aan die regering van Kazakstan gestuur. Hierin het hulle gevra dat mnr. Akhmedov vrygelaat moet word en van alle valse aanklagtes vrygespreek moet word. Die VN se Menseregtekomitee het ook Kazakstan dringend gevra dat hy uit die tronk vrygelaat moet word as gevolg van sy swak gesondheid.

Mnr. Akhmedov se prokureur het gesê: “Die feit dat Teymur onregverdig tronk toe gestuur is, nie baie gesond is nie en mediese sorg nodig het, is ’n pleit vir geregtigheid. Ons smeek Kazakstan se regering, net soos VN-agentskappe gedoen het, om meegevoel met Teymur te hê en om hom dadelik uit die tronk vry te laat.”