Spring na inhoud

2 MAART 2015
KIRGISTAN

Positiewe verwikkelinge in verband met godsdiensvryheid in Kirgistan

Positiewe verwikkelinge in verband met godsdiensvryheid in Kirgistan

Godsdiensvryheid in Kirgistan is op 4 September 2014 bevorder toe die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof dele van die Godsdienswet van 2008 ongrondwetlik verklaar het. Dit het vir Jehovah se Getuies die weg gebaan om in die suidelike dele van Kirgistan as ’n godsdiens geregistreer te word. *

Ten spyte van hierdie beslissing weier die Staatskomitee vir Godsdienssake (SCRA) steeds om die Getuies in die suidelike dele van Kirgistan wetlik te registreer. Die SCRA voer aan dat die Godsdienswet van 2008 van krag bly soos dit geskrewe staan totdat die parlement dit wysig en verhinder dus dat Jehovah se Getuies wetlik erken word. Gevolglik word dieselfde godsdiensbedrywighede wat in die noorde geregistreer en onder vreedsame toestande beoefen word, in die suide van Kirgistan teen gediskrimineer en beperk. *

In hegtenis geneem vir ongeregistreerde godsdiensbedrywigheid

Op 30 Junie 2014 het die 46-jarige Zjildiz Zjoemaliewa in Narin, ’n stad in die suidooste van Kirgistan, in haar eie tyd met haar bure oor haar godsdiensoortuigings gepraat. Die owerheid in Narin het haar in hegtenis geneem en haar daaraan skuldig bevind dat sy as ’n lid van ’n ongeregistreerde plaaslike godsdiensorganisasie met haar bure oor haar godsdiensoortuigings gepraat het. * Dit is die eerste keer sedert Kirgistan onafhanklikheid verkry het dat ’n Getuie weens godsdiensbedrywighede geregtelik vervolg is.

Toe appèl aangeteken is, het die Narin-streekhof op 5 Augustus 2014 die saak teen me. Zjoemaliewa verhoor. Die regters het baie vrae gevra om ’n beter begrip te verkry van Jehovah se Getuies en die boodskap wat hulle aan hulle bure verkondig. Nadat die regters die bewyse ondersoek het, het hulle die saak uitgestel totdat die Konstitusionele Kamer hulle bogenoemde beslissing gelewer het.

Daarna het die Narin-streekhof die saak van me. Zjoemaliewa voortgesit. Die hof het bevind dat geen administratiewe wette geskend is nie en dat alle burgers die grondwetlike reg het om hulle godsdiensoortuigings uit te leef. Die hof het die Konstitusionele Kamer se beslissing in ag geneem en gesê dat Jehovah se Getuies nasionale registrasie in Kirgistan het. Dit het die verhoorhof se beslissing nietig verklaar. Die aanklaer het egter appèl aangeteken en beweer dat die Konstitusionele Kamer se beslissing niks met die strafsaak te doen het nie. Op 24 Desember 2014 het die Hooggeregshof sy appèl geweier. Dit beteken dat die Narin-streekhof se kwytskelding van me. Zjoemaliewa nog geldig is en dat sy die reg het om met haar bure oor haar godsdiensoortuigings te praat.

Geregtigheid ten spyte van valse aanklagte in Osj

In 2013 is Oksana Koriakina en haar ma, Nadezjda Sergienko, onder huisarres geplaas omdat hulle na bewering misdade gepleeg het terwyl hulle met ander oor hulle geloof gepraat het. Beamptes in Osj het hierdie valse aanklagte as ’n verskoning gebruik om te beweer dat Jehovah se Getuies aan “onwettige godsdiensbedrywighede” deelneem. Die beamptes voer aan dat Jehovah se Getuies sonder die registrasie van ’n plaaslike godsdiensorganisasie glad nie in die openbaar aan hulle godsdiensoortuigings uiting mag gee nie.

Die verhoorhof in Osj het albei vroue van die kriminele aanklagte vrygespreek. Die regter het in sy beslissing van 7 Oktober 2014 tot die slotsom gekom dat die ondersoekbeamptes aansienlike foute in hulle ondersoek begaan het en dat hulle me. Koriakina en me. Sergienko vervolg het net omdat hulle Jehovah se Getuies is.

Die aanklaer in Osj het appèl aangeteken teen die verhoorhof se beslissing. Hy het in ’n mosie gevra dat die saak terugverwys word na die ondersoekbeamptes sodat hulle die foute kan “regstel” en dat me. Koriakina en me. Sergienko ’n tweede keer voor die hof gebring word. Toe die appèlhof die aanklaer se mosie verwerp het, het hy by die Hooggeregshof van Kirgistan geappelleer. Die Hof het besluit om die saak op 3 Maart 2015 te verhoor, en die Getuies hoop dat hierdie Hof ook ’n regverdige beslissing sal lewer.

Sal Kirgistan godsdiensvryheid bevorder of beperk?

Een van Jehovah se Getuies wat by ’n verhoor van me. Zjoemaliewa was, het gesê: “Sedert 1998 het plaaslike beamptes die lewe vir ons moeilik gemaak omdat ons nie wetlik in Narin geregistreer is nie. Ons hoop dat ons as gevolg van hierdie beslissings deur die Hooggeregshof nou uiteindelik registrasie sal kan verkry.”

Jehovah se Getuies sien uit daarna om in Narin, Osj en elders in Suid-Kirgistan geregistreer te word sodat hulle hulle vreedsame aanbidding sonder teistering kan voortsit. As Kirgistan ag slaan op sy hoër hof, sal dit die godsdiensvryheid van sy burgers bevorder.

^ par. 2 Sien die artikel “Kirgistan se hoogste hof handhaaf godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies” vir ’n verslag van die beslissing van 4 September 2014 deur die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof.

^ par. 3 Die Getuies het nasionale registrasie, en hulle het ook plaaslike registrasie in die noordelike dele van die land. Maar owerhede in die suidelike dele het herhaaldelik geweier om hulle plaaslik te registreer.

^ par. 5 Artikel 395(2) van die Administratiewe Wetgewing van die Republiek van Kirgistan verbied die oortreding van die “reëls om godsdiensvergaderinge, -optogte en ander godsdiensseremonies te organiseer en te hou”.