Spring na inhoud

5 NOVEMBER 2014
KIRGISTAN

Kirgistan se hoogste hof handhaaf godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies

Kirgistan se hoogste hof handhaaf godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies

Die 4de September 2014 was ’n betekenisvolle dag vir Jehovah se Getuies en godsdiensvryheid in Kirgistan. Op daardie dag het die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof van Kirgistan beslis dat dele van die Godsdienswet * van 2008 ongrondwetlik is. Die beslissing het bevestig dat die Getuies die reg het om hulle godsdiensbedrywighede vryelik te beoefen in die suidelike streke van Kirgistan, waar hulle die afgelope vier jaar herhaaldelik wetlike status geweier is.

Jehovah se Getuies is in 1998 in Kirgistan geregistreer, en hulle het regoor die land ’n mate van godsdiensvryheid geniet. Maar sedert die Godsdienswet van 2008 in werking getree het, het die polisie herhaaldelik die godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies in die suidelike streke van Kirgistan ontwrig en beweer dat die Getuies se bedrywigheid in hierdie streke “onwettig” is omdat hulle nie plaaslik geregistreerde godsdiensorganisasies het nie. Terselfdertyd het die Staatskomitee vir Godsdiensake (SCRA) party beperkende bepalings van die Godsdienswet van 2008 verkeerd toegepas om die Getuies se pogings om in hierdie streke geregistreer te word, te laat misluk. Die beslissing van 4 September het hierdie struikelblokke uit die weg geruim.

’n Betekenisvolle regsverwikkeling

Die Godsdienswet van 2008 verbied “die bedrywigheid en funksionering van ’n godsdiensorganisasie” sonder registrasie (Artikel 8(2)). Die SCRA het hierdie beperking op so ’n manier uitgelê dat hulle die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies kon verbied in tientalle dorpe en stede in Kirgistan waar hulle nie plaaslik geregistreerde godsdiensorganisasies het nie. Dieselfde wet het vereis dat ’n notarieel bekragtigde lys van die 200 stigters van ’n godsdiensorganisasie by die plaaslike stadsraad ingedien en goedgekeur word (Artikel 10(2)) voordat die organisasie aansoek kan doen om by die SCRA geregistreer te word. Dit het Jehovah se Getuies in ’n moeilike posisie geplaas—die SCRA het vir hulle gesê dat hulle plaaslik geregistreer moet word om wetlik vir aanbidding te vergader, maar hulle kon nie geregistreer word nie omdat die plaaslike stadsrade nie hulle lyste van stigters goedgekeur het nie. Dit het die SCRA en plaaslike owerhede ’n verskoning gegee om die Getuies aan te val, want hulle kon nie aan die registrasievereistes voldoen nie. Weens hierdie uitdagings het die Getuies ’n aansoek by die Konstitusionele Kamer ingedien om hierdie wetsbepalings te hersien.

In sy beslissing het die Konstitusionele Kamer gesê dat “alle godsdiensorganisasies voor die wet gelyk is en dat geen persoon of groep van ’n sekere godsdiens beter behandel moet word as lede van ’n ander godsdiens nie”. Die Hof het gesê dat Artikel 10(2)—wat vereis dat die lys van stigters van ’n godsdiensorganisasie deur ’n plaaslike stadsraad goedgekeur word—ongrondwetlik is. Die Hof het ook beslis dat Artikel 8(2) van die wet “misverstaan” is. Volgens die Hof waarborg die reg op godsdiensvryheid dat ’n godsdiensorganisasie sy godsdiensbedrywighede vryelik mag beoefen in enige streek van die land wat die organisasie in sy stigtingsdokument aangee. Die stigtingsdokument van 1998 van die Godsdienssentrum van Jehovah se Getuies in die Republiek van Kirgistan het reeds gesê dat die organisasie in die hele land bedrywig. Dit beteken dat Jehovah se Getuies hulle godsdiensbedrywighede nou in alle streke van Kirgistan vryelik en sonder hindernis kan uitvoer.

Beslissing bring verligting vir slagoffers van diskriminasie

Die beslissing van 4 September was goeie nuus vir Jehovah se Getuies in Suid-Kirgistan. Dit was veral goeie nuus vir Oksana Koriakina en haar ma, Nadezjda Sergienko, wat in die stad Osj woon. Hulle was sedert Maart 2013 onder huisarres omdat daar beweer is dat hulle misdade gepleeg het terwyl hulle met ander oor hulle geloof gepraat het. Ten spyte van duidelike bewyse dat Oksana en Nadezjda onskuldig is, is hulle daarvan aangekla dat hulle drie bejaarde vroue gekul het om geld te kry.

Die verhoor het in September 2014 in die stadshof van Osj plaasgevind, en op 7 Oktober 2014 het die verhoorhof al twee vroue van die kriminele aanklagte vrygespreek en beslis dat hulle geregtig is op algehele vergoeding vir hulle wederregtelike vervolging, aanhouding en huisarres. Die verhoorhof het erken dat die twee Getuies slagoffers van godsdiensvooroordeel en diskriminasie was en dat hulle ’n teiken geword het weens die valse bewering dat die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies in Osj onwettig is omdat die Getuies nie ’n plaaslik geregistreerde godsdiensorganisasie het nie. In hulle slotpleidooi het Oksana en Nadezjda gesteun op die beslissing van 4 September van die Konstitusionele Kamer, wat die bedrywigheid van Jehovah se Getuies in Osj en regoor Kirgistan wettig verklaar.

Oksana Koriakina en Nadezjda Sergienko

Pogings om internasionale menseregte te bevorder

Toe Kirgistan die Verenigde Nasies se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte aanvaar het, het dit ’n internasionale verbintenis aangegaan om menseregte en basiese vryhede—vryheid van godsdiens of oortuiging, vryheid om te vergader en vrye meningsuiting—vir sy burgers te bevorder. Deur sy onlangse beslissings wat godsdiensvryheid handhaaf, het die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof van Kirgistan menseregte en basiese vryhede daadwerklik ondersteun. Die byna 5 000 Getuies van Jehovah in Kirgistan stel die godsdiensvryhede wat aan hulle verleen is, hoog op prys en waardeer die staatsinstellings wat basiese vryhede ten behoewe van almal verdedig en handhaaf.

^ par. 2 Die volle naam van die wet is: “Wet van die Republiek van Kirgistan oor Godsdiensvryheid en Godsdiensorganisasies in die Republiek van Kirgistan.”