Spring na inhoud

17 DESEMBER 2015
KIRGISTAN

Hof in Kirgistan handhaaf die vryspreking van twee vroue wat op valse aanklagte skuldig bevind is

Hof in Kirgistan handhaaf die vryspreking van twee vroue wat op valse aanklagte skuldig bevind is

Op 29 Oktober 2015 het drie regters van die Osj-streekhof twee van Jehovah se Getuies, Oksana Koriakina en haar ma Nadezjda Sergienko, vrygespreek. Die aanklaer het die vroue valslik daarvan beskuldig dat hulle die plaaslike inwoners van Osj bedrieg terwyl hulle met hulle godsdiensbedrywighede besig is.

’n Ondersoek wat op ongegronde aanklagte gebaseer is, bring godsdiensdiskriminasie aan die lig

In Maart 2013 het die polisie Oksana Koriakina en Nadezjda Sergienko op valse aanklagte in hegtenis geneem. Die vroue het grondige bewyse gehad, wat deur ooggetuies bevestig is, om hulle onskuld te bewys. Die kriminele ondersoek het nietemin voortgegaan, en die Stadshof van Osj het Oksana en Nadezjda onder huisarres geplaas in afwagting van hulle verhoor.

Die Stadshof van Osj het later tot die gevolgtrekking gekom dat die voorlopige ondersoek op onwettige wyse ’n verkeerde indruk van Oksana en Nadezjda geskep het en dat die ondersoekbeamptes “die prosedures in verband met kriminele wetgewing talle kere oortree het”. Byvoorbeeld, die ondersoekbeamptes het die toneel eers vier maande ná die beweerde misdaad ondersoek, en hulle het ook nie tasbare bewyse gekry wat met die aanklagte verband hou nie. Hulle het die prosedures wat gevolg moet word om verweerders uit te ken, so erg oortree dat die uitslag later ongeldig verklaar is. Regdeur die ondersoek en die verhoor het die vermeende slagoffers hulle getuienis herhaaldelik verander.

Die verhoorregter het tot die slotsom gekom dat die vermeende slagoffers bevooroordeeld teen Jehovah se Getuies was en dat die ondersoekbeamptes Oksana en Nadezjda mishandel het “omdat hulle lede van die godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies is”. Byvoorbeeld, hoewel die twee Getuies van bedrog beskuldig is, was die ondersoekbeamptes daarop uit om sogenaamde verbode godsdienslektuur te vind tydens ’n klopjag wat maande later op hulle huise uitgevoer is. Hulle het niks gekry nie.

Huisarres onder moeilike omstandighede

Toe Oksana en Nadezjda onder verhoorafwagtende huisarres geplaas is, is hulle verbied om die stad Osj sonder die toestemming van die plaaslike owerheid te verlaat. Hulle moes gedurende die aandklokreël in hulle huise bly—iets wat vir die twee vroue baie moeilik was. Oksana en Nadezjda moes die aandklokreël meer as twee jaar lank gehoorsaam, en dit het hulle daaglikse roetine en godsdiensbedrywighede beperk.

Wat meer is, Nadezjda het gesukkel om werk te kry omdat die owerheid beslag gelê het op haar paspoort. Toe sy gesondheidsprobleme ondervind het, kon sy nie die huis gedurende die aandklokreël verlaat om hospitaal toe te gaan vir behandeling nie. Oksana moes die regter se toestemming vra om saam met haar man buite Osj te reis. Sy en haar man het emosionele angs ondervind en slapelose nagte gehad omdat hulle bekommerd was oor die uitkoms van die hofsaak.

Geregtigheid seëvier

Op 7 Oktober 2014 het die Stadshof van Osj Oksana en Nadezjda vrygespreek omdat daar “geen bewyse was dat hulle skuldig is nie”. Maar die herhaaldelike appèlle wat deur die aanklaer aangeteken is, het veroorsaak dat die hofsaak vir nog ’n jaar uitgestel is. Die twee vroue se huisarres is dus verleng tot die appèlverhoor in Oktober 2015.

“Die aanklaer het nie bewys dat die verweerders se getuienis (alibi’s) ongeldig is of enige bewyse voorgelê dat die verweerders O. Koriakina en N. Sergienko skuldig is aan die oortredings nie.”—Regter van die appèlhof

Op 29 Oktober 2015 het die drie regters van die Osj-streekhof die verhoorhof se beslissing gehandhaaf. Die appèlhof het beslis dat “die argument in die [aanklaer se] appèl en die appèl wat ingedien is, nie tydens die verhoor bewys is nie”. Die appèlhof het bevestig dat Oksana en Nadezjda onskuldig is en het beveel dat hulle onmiddellik uit huisarres vrygelaat moet word. Die howe het ook beslis dat Oksana en Nadezjda geregtig is op geldelike vergoeding vir skade aan eiendom, sowel as vir verlies aan inkomste weens hulle wederregtelike vervolging en verhoor.

Oksana het gesê: “Ek en my ma is verlig dat die hof ons vrygespreek het en dat ons nie meer deur huisarres beperk is nie. Ons sien daarna uit om weer tyd saam met ons familie en vriende deur te bring en om weer ten volle by ons godsdiensbedrywighede betrokke te wees.”

Oksana, Nadezjda en ander Getuies in Kirgistan is dankbaar dat die howe besef het wat agter die godsdiensdiskriminasie van party amptenare skuil en dat hulle die wet gehandhaaf het. Die Getuies hoop dat hierdie besluit die plaaslike regering sal laat erken dat hulle godsdiensvryheid deur die grondwet gewaarborg is en dat hulle Jehovah se Getuies in Suid-Kirgistan wetlik sal registreer.