Spring na inhoud

1 MAART 2016
KIRGISTAN

Sal reg geskied vir slagoffers van polisiewreedheid in Osj?

Sal reg geskied vir slagoffers van polisiewreedheid in Osj?

Kirgistan se hoofaanklaer het die aanklaer se kantoor in Osj vir die derde keer gevra om dit te oorweeg om ’n kriminele ondersoek teen tien polisiebeamptes in te stel. Die polisie het in Augustus 2015 ’n onwettige klopjag op ’n godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies uitgevoer en het ’n hele paar van dié wat daar was, erg geslaan. Ten spyte van die duidelike bewyse dat die polisie hulle aan wangedrag skuldig gemaak het, het die aanklaer se kantoor in Osj geweier om ’n kriminele ondersoek in te stel.

Onwettige klopjag en hardhandige optrede deur die polisie

Op Sondagoggend 9 Augustus 2015 het tien beamptes van Departement 10 * van Osj se polisiestasie, ’n klopjag uitgevoer op ’n godsdiensvergadering in ’n gehuurde kafee waar meer as 40 mense vir ’n vreedsame godsdiensvergadering bymekaargekom het. Een van die polisiebeamptes het op Noerlan Oesoepbaef, wat die vergadering gehou het, geskreeu en gesê dat hy die godsdiensvergadering dadelik moet stopsit omdat dit “onwettig” is. Die polisie het herhaaldelik gedreig om almal te skiet. Toe een vergaderingbywoner, Tintsjtik Olzjobajef, ’n video-opname probeer maak het van hoe hardhandig die polisie optree, het hulle hom na ’n ander vertrek geneem en hom erg geslaan.

Die beamptes het tien van die Getuiemans na die polisiestasie geneem. Daar het die polisie ses van hulle erg geslaan en drie van hulle gewurg, insluitende Mnr. Oesoepbaef. Die mans is dieselfde dag vrygelaat en dié met ernstige beserings het hospitaal toe gegaan om ondersoek te word.

Twee dae later, op 11 Augustus, het die polisiebeamptes Kozjobek Kozoebojef en Noerbek Sjerikbajef—dieselfde beamptes wat die klopjag en aanrandings gelei het—Mnr. Oesoepbaef op aanklag van onwettige godsdiensbedrywighede in hegtenis geneem. Sy saak sou op 20 en 21 Augustus voor die Stadshof van Osj verhoor word.

Howe handhaaf die Getuies se reg tot aanbidding

Gedurende die verhoor het die verteenwoordiger van Departement 10 aangevoer dat die godsdiensvergadering van 9 Augustus onwettig was omdat Jehovah se Getuies nie plaaslik geregistreer is in Osj nie. Die aanklaers het ook beweer dat die teenwoordigheid van kinders by die vergadering saam met hulle Getuie-ouers, ’n oortreding was van Kirgistan se godsdienswet wat verbied dat kinders vir godsdiensorganisasies gewerf word.

Op 21 Augustus het die voorsittende regter van die Stadshof van Osj Mnr. Oesoepbaef onskuldig bevind op aanklagte van onwettige godsdiensbedrywighede. Die hof het beslis dat die administratiewe saak teen hom uitgegooi moet word omdat daar geen bewyse is dat hy aan onwettige godsdiensbedrywighede deelgeneem het of kinders “gewerf” het nie.

Die stadsaanklaer van Osj het ’n appèl by die Streekhof van Osj ingedien waarin hy beswaar aangeteken het teen Mnr. Oesoepbaef se vryspreking. Die streekhof het die aanklaer se appèl verwerp en het die verhoorhof se beslissing om Mnr. Oesoepbaef vry te spreek, gehandhaaf. Die streekhof het herbevestig dat Jehovah se Getuies ’n godsdiensorganisasie is wat behoorlik geregistreer is in Kirgistan. Die hof het verder gesê dat die Grondwetlike Kamer van die Hooggeregshof reeds die deel van Kirgistan se wet wat plaaslike godsdiensregistrasie vereis, ongrondwetlik verklaar het. * Maar die aanklaer het by die Hooggeregshof appèl aangeteken, en die saak sal op 2 Maart 2016 verhoor word.

Plaaslike aanklaer is beveel om ’n ondersoek in te stel teen die polisie

Terwyl hierdie saak aan die gang was, het Mnr. Oesoepbaef en die ander wat in die klopjag van 9 Augustus erg geslaan is, ’n klag ingedien by die aanklaer se kantoor in Osj. Hulle het gevra dat die tien polisiebeamptes wat by die aanrandings betrokke was, krimineel aangekla moet word. Dit het daartoe gelei dat ’n reeks sake aanhangig gemaak is waarteen geappelleer is. Die stadsaanklaer van Osj het drie keer geweier om ’n saak aanhangig te maak, en elke keer het die slagoffers appèl aangeteken by die hoofaanklaer. Die hoofaanklaer het die besluit van die stadsaanklaer van Osj twee keer ter syde gestel en vir hom gesê om die saak te heroorweeg. Maar nadat hy die slagoffers se derde appèl ontvang het, het die hoofaanklaer, pleks daarvan dat hy die appèl self aangehoor het, die saak terugverwys na die stadsaanklaer van Osj om daaroor te beslis. Hierdie jongste opdrag van die hoofaanklaer, gedateer 21 Januarie 2016, laat die vraag ontstaan of reg ooit sal geskied vir die slagoffers.

Jehovah se Getuies in Kirgistan is dankbaar dat hulle nasionaal geregistreer is en ook vir die onlangse hofuitsprake in Osj. Hulle waardeer dit dat regverdige regters moedig die weg baan vir godsdiensvryheid deur die oppergesag van die reg toe te pas en die regering se toegewydheid aan vryheid van aanbidding en geloof, handhaaf. Maar hulle is baie bekommerd oor die feit dat die Staatsamptenare nie daadwerklik opgetree het om die polisie wat hierdie wrede aanval uitgevoer het, voor die gereg te bring nie. Jehovah se Getuies pleit dat die hoofaanklaer se kantoor duidelik en daadwerklik moet optree om dié wat hierdie gewelddaad gepleeg het, te vervolg.

^ par. 4 Departement 10 is ’n tak van Kirgistan se Departement van Binnelandse sake.

^ par. 10 Beslissing van 4 September 2014. Sien die artikel: “Kirgistan se hoogste hof handhaaf godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies.”