5 JULIE 2023
MADAGASKAR
Nuwe teokratiese skoolfasiliteit in Madagaskar toegewy
Op 27 Mei 2023 is die toewyding van ’n nuwe Bybelskoolfasiliteit in Antananarivo, Madagaskar, in ’n Koninkryksaal daar naby gehou. Broer Kenneth Cook jr., ’n lid van die Bestuursliggaam, het die toewydingstoespraak met die titel “’n Gebou wat Jehovah vereer” gegee. Die volgende dag is ’n spesiale program gehou by ’n plaaslike Byeenkomssaal, en dit was gestroom na ’n gehoor van meer as 45 000 mense.
Aan die begin van Desember 1999 is teokratiese skole by die takkantoor in Madagaskar gehou. Maar mettertyd was daar nie genoeg plek vir al die broers en susters wat hulleself beskikbaar gestel het om meer opleiding te kry nie. In Julie 2020 is ’n stuk grond van 1 348 vierkante-meter gekoop. Dit is binne loopafstand van die takkantoor. Kort daarna is daar met konstruksie by die skoolfasiliteit begin. Ten spyte van beperkings as gevolg van die COVID-19-pandemie is die projek binne net twee jaar voltooi. Op die perseel is daar ’n gebou waar die teokratiese skole gehou word en nog ’n gebou waar die studente en die instrukteurs bly. Klasse vir die Skool vir Koninkrykspredikers en die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens sal hier gehou word.
As gevolg van hierdie skole sal meer en meer broers en susters opleiding ontvang wat hulle sal help om meer bekwaam te word om “geestelike dinge met geestelike woorde” te verduidelik. – 1 Korintiërs 2:13.