Spring na inhoud

Die huidige takkantoorfasiliteite in Lilongwe, Malawi. Kleiner foto’s (kloksgewys van links bo): Broer Bill McLuckie, die eerste takkneg in Malawi; Die owerhede vat die takkantoor in 1967; ’n Suster wat bly is om vandag aan die predikingswerk deel te neem

28 DESEMBER 2023
MALAWI

Eerste takkantoor 75 jaar gelede in Malawi begin

’n Geskiedenis van buitengewone krag

Eerste takkantoor 75 jaar gelede in Malawi begin

Vyf-en-sewentig jaar gelede in 1948 is die eerste takkantoor van Jehovah se Getuies in Malawi in die stad Blantyre begin.

Voordat die takkantoor in Malawi begin is, het die takkantoor in Suid-Afrika die werk van Jehovah se Getuies in Malawi georganiseer. Van die begin van die 1930’s het die aantal broers en susters in Malawi geleidelik begin groei van net 28 in 1934 tot meer as 5 600 in 1948. Op 1 September 1948 is die eerste takkantoor in Blantyre in ’n klein gehuurde woonstel begin omdat die aantal Getuies toegeneem het. Hierdie takkantoor is gebruik totdat ’n nuwe Bethelfasiliteit in 1958 daar naby gebou is.

Links: Chichewa- en Chitumbuka-vertalers staan buite die takkantoor wat in 1958 in Malawi gebou is. Een van hulle is Baston Nyirenda (omkring) wat op die oomblik as ’n lid van die takkomitee in Malawi dien. Regs: Baston, wat 80 jaar oud is, saam met sy vrou, Violet, vandag

Minder as tien jaar later, in Oktober 1967, het die owerhede in Malawi die werk van Jehovah se Getuies verbied. As gevolg hiervan kon die takkantoor nie meer gebruik word nie. Ten spyte hiervan het verantwoordelike broers in Malawi aangehou om die predikingswerk te organiseer en om hulle broers en susters regdeur die land te help. Jehovah se Getuies is amper 26 jaar lank erg vervolg en baie sleg behandel as gevolg van hulle neutraliteit. Hulle was slagoffers van wrede dade van geweld. Gedurende hierdie tyd is ons broers en susters in die tronk gesit, gemartel en selfs vermoor. Party broers en susters het gekies om na lande daar naby te vlug, insluitende Mosambiek, Zambië en Zimbabwe.

Broers en susters vertaal Bybelpublikasies in Chichewa

Op 12 Augustus 1993 is die verbod gelig. Gedurende die volgende twee jaar het die broers in Zambië gehelp om die werk te organiseer. Hulle het ’n hele paar jaar gedurende die tyd wat die werk verbied is, na die werk in Malawi omgesien. Daarna het ons broers twee huise in die stad Lilongwe gekoop wat as die nuwe takkantoor in Malawi gebruik sou word. In 1994 het die Bestuursliggaam planne goedgekeur om ’n gepaste stuk grond te kry waarop ’n nuwe Bethelfasiliteit in die land gebou kon word. Toe die takfasiliteite op 19 Mei 2001 toegewy is, het meer as 2 000 broers en susters die program bygewoon. Baie van hulle het jare se vervolging getrou verduur. Broer Trophim Nsomba, wat as ’n kringopsiener gedien het terwyl die werk verbied was, is een van dié wat die toewydingsprogram bygewoon het. Wanneer broer Nsomba aan die nuwe takfasiliteite en die geestelike groei in Malawi dink, sê hy: “Hierdie seëninge van Jehovah af is so wonderlik dat dit vir my en [my vrou] amper soos ’n droom voel!”

Vandag is daar 1 924 gemeentes in Malawi met meer as 109 000 broers en susters. Dit sluit die 225 broers en susters in wat by die takkantoor in Malawi in Lilongwe dien, waar hulle na die vertaling van Bybelpublikasies in sewe tale omsien.

Party van die 109 000 broers en susters in Malawi wat Jehovah vandag getrou dien

Ons bid dat Jehovah ons liewe broers en susters in Malawi sal aanhou seën wat hulleself as bedienaars aanbeveel het omdat hulle jare lank volhard het. – 2 Korintiërs 6:4.