Spring na inhoud

29 MEI 2020
MALAWI

Gemeentelike vergaderinge in Malawi bereik miljoene deur middel van TV en radio

Gemeentelike vergaderinge in Malawi bereik miljoene deur middel van TV en radio

Die Takkomitee in Malawi het gereël dat die gemeentelike vergaderinge oor plaaslike televisie- en radio-stasies uitgesaai word. Dit bereik ons broers en susters en baie ander. Daar is meer as 100 000 Getuies van Jehovah in Malawi. Maar daar word geskat dat tweemiljoen mense elke naweek by die televisie-uitsending inskakel en dat agtmiljoen mense na die radio-uitsending luister.

Soos die geval is in baie ander lande, kom ons broers en susters in Malawi nie op die oomblik in Koninkryksale bymekaar vir vergaderinge nie as gevolg van die COVID-19-krisis. Amper alle gemeentelike verkondigers het ’n televisie of ’n radio. So omdat die vergaderinge op die televisie en die radio uitgesaai word, kan selfs dié wat nie Internet of videoverbinding-apps het nie, by die vergaderinge baat vind.

Die vergaderinge word in Chichewa uitgesaai, die hooftaal van die land. Die hele TV-program word terselfdertyd in Malawiese Gebaretaal vertaal. Behalwe vir ’n openbare toespraak, word ons video’s of gedramatiseerde Bybelvoorlesings ook gespeel gedurende die openbare vergadering. Aan die einde van die program word almal aangemoedig om jw.org te besoek om meer inligting in ander tale te kry.

Die uitsendings het party verkeerde idees wat mense oor Jehovah se Getuies het, reggestel. Een man het geskryf: “Ek het die afgelope paar weke na julle preke op die radio geluister. Dit gee bevredigende antwoorde op die leuens wat mense oor julle versprei. Julle preke is baie anders as die ander godsdienste s’n. Dit raak ons hart!” Die man en sy gesin het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.

Augustine Semo, wat saam met die Openbare Inligtingsafdeling in Malawi werk, verduidelik: “Hierdie uitsendings het ons broers baie gehelp om aan te hou met hulle geestelike roetine. Dit het ook gehelp dat baie mense wat nie Getuies is nie, ons Bybelonderrigting kan geniet. Wanneer toestande in Malawi weer normaal is, hoop ons om baie nuwe mense by ons Koninkryksale te sien.”

Ons is bly om te weet dat ons mede-Getuies en ander in Malawi geestelik gevoed word gedurende hierdie moeilike tye. Dit gee ons meer waardering vir die ‘getroue slaaf’, wat seker maak dat almal geestelike voedsel kry. – Matteus 24:45.