Spring na inhoud

5 MEI 2022
MALAWI

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chiyao vrygestel

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chiyao vrygestel

Op 24 April 2022 het broer Frank Madsen, ’n lid van die Takkomitee in Malawi, die elektroniese weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chiyao vrygestel. Meer as 148 000 mense het die vooraf opgeneemde program deur middel van satelliet-televisie of op ander maniere, wat JW Box en JW Stream insluit, gekyk. Gedrukte kopieë sal in die toekoms beskikbaar gemaak word.

Die volledige Bybel is vanaf 2014 in Chiyao beskikbaar. Maar die vertaling is onakkuraat en het God se naam, Jehovah, heeltemal weggelaat, al word sy naam duisende kere in die oorspronklike teks gevind.

Die Chiyao-vertaalkantoor in Namwera, Mangochi-streek

As gevolg hiervan het baie verkondigers dit moeilik gevind om hierdie Bybel in die openbare bediening te gebruik. Een vertaler het verduidelik: “In plaas daarvan om hulle die belangrikheid van God se naam te leer, het ons baie tyd spandeer om te verduidelik hoekom God se naam nie in die Bybel is nie.” Byvoorbeeld, in een Bybel in Chiyao is ’n deel van Matteus 22:44 vertaal as “die Here het vir my Here gesê”. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling vertaal dit meer akkuraat as “Jehovah het vir my Here gesê”.

Nog ’n vertaler wat oor die ander voordele van hierdie vrystelling nagedink het, het gesê: “Omdat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chiyao duidelik en maklik is om te lees, sal mense onmiddellik verstaan wat dit sê. Hulle sal ook gemotiveerd voel om dit wat hulle leer, toe te pas.”

Ons is bly dat hierdie Bybel nou beskikbaar is om die miljoene mense wat Chiyao praat, te help om die naam van Jehovah, “die Allerhoogste oor die hele aarde”, te leer ken en nader aan hom te kom. – Psalm 83:18.