Spring na inhoud

Meer as 42 000 verkondigers het vrywillig aangebied om die noodlenigingswerk in Sentraal-Amerika te voltooi. Die werk het meer as ’n jaar lank gevat.

12 APRIL 2019
MEXIKO

Jehovah se Getuies in Sentraal-Amerika voltooi groot noodlenigingsprojek ná verwoestende aardbewings

Jehovah se Getuies in Sentraal-Amerika voltooi groot noodlenigingsprojek ná verwoestende aardbewings

In 2017 het twee groot aardbewings Guatemala en Mexiko getref. In Desember 2018 het die broers hulle noodlenigingswerk in die streek voltooi.

Die takkantoor in Sentraal-Amerika het ’n paar vergaderinge gereël om die noodlenigingswerk te begin. Dit is gehou om die broers en susters wat deur die ramp geraak is, aan te moedig. Hierdie vergaderinge is in die state Chiapas, Morelos, Oaxaca en Puebla sowel as Mexikostad gehou. Die takkomitee het die herbouingswerk gereël met behulp van altesaam 39 noodlenigingskomitees.

Jesse Pérez, ’n lid van die Takkomitee in Sentraal-Amerika, besoek die verkondigers in die staat Morelos wat deur die aardbewing geraak is.

Twee broers werk aan die dak van ’n Byeenkomssaal wat herbou is gedurende die noodlenigingswerk.

In Mexiko het meer as 42 000 verkondigers van tien verskillende state aangebied om met die noodlenigingswerk te help. Die broers en susters het 619 huise, 5 Koninkryksale en 2 Byeenkomssale herbou. Hulle het ook nog 502 huise en 53 Koninkryksale herstel. In Guatemala is nog tien huise herbou.

Die Hernández- en Santiago-families is van die Getuies wat gehelp is.

Die Hernández-familie staan voor hulle huis wat deur noodlenigingswerkers herbou is.

Die Hernández-familie woon in die stad Chalco, wat net 40 kilometer buite Mexikostad is. Die aardbewing op 19 September 2017 het hulle huis heeltemal vernietig. Suster Ana María Hernández verduidelik: “Dinge was moeilik, maar ons het nog steeds alles gehad wat nodig was. Ons broers het baie mooi na ons gekyk. Ek onthou hoe 50 of meer vrywilligers gewerk het om ons nuwe huis te bou op die plek waar dit voorheen gestaan het. Tot vandag toe is ons bure verstom oor wat ons broers vir ons gedoen het.” Behalwe vir die praktiese hulp wat hulle gekry het, het ’n verteenwoordiger van die takkantoor in Sentraal-Amerika die Hernández-familie besoek en hulle uit die Bybel aangemoedig.

Die Santiago-familie voor hulle nuwe huis.

Die Santiago-familie, wat in die stad Juchitán in die staat Oaxaca bly, is geraak deur die aardbewing wat op 7 September 2017 gebeur het. Die aardbewing het hulle huis vernietig, en hulle kon nie daarin bly nie. Maar in minder as ses maande het noodlenigingswerkers ’n nuwe huis vir hulle gebou. Broer Victor Santiago, die pa van die familie, sê: “Ek was so beïndruk deur hoe vinnig Jehovah se organisasie ons gehelp het. Ek het gesien dat Jehovah alles onder beheer het.”

Broer Jesse Pérez, ’n lid van die Takkomitee in Sentraal-Amerika, sê: “Die verwoesting wat deur die twee aardbewings veroorsaak is, was wydverspreid. Maar die noodlenigingswerk wat oor ’n lang tydperk aangehou het, het die broers en susters die geleentheid gegee om hulle vrywillige gees te toon. Heelwat verkondigers het kom help, wat hulle broederlike liefde gewys het. Ons is baie bly dat Jehovah hierdie noodlenigingswerk geseën het.” – 2 Korintiërs 8:1-4.