6 FEBRUARIE 2018
MEXIKO
Jehovah se Getuies in Jalisco, Mexiko, gedwing om hulle huise in Huichol-gemeenskap te verlaat
MEXIKOSTAD — Op 4 Desember 2017 het ’n groep mense in Tuxpan de Bolaños, ’n klein dorpie in die berge van Jalisco, Mexiko, 12 van ons broers van die plaaslike Huichol-gemeenskap en nog 36 mense wat saam met hulle assosieer, aangeval. Hulle het ons broers ook uit hulle huise gesit. Die aanvallers was kwaad omdat die Getuies nie aan tradisionele Huichol-godsdiensgebruike wou deelneem nie. Omdat ons broers slagoffers van godsdiensvervolging is, het hulle na die wetlike owerhede gegaan vir hulp.
Die Mexikaanse regering respekteer Huichol-tradisies en -kultuur soveel so dat hulle hierdie gemeenskap toelaat om hulleself tot ’n sekere mate te regeer. Die tradisionele Huichol-regering het veroorsaak dat mense ons broers met geweld uit hulle huise sit. Daarna het hulle die huise beroof en deure, vensters en dakke gesteel. Die besittings wat nie gesteel is nie, is in ’n sloot gegooi. Die broers is toe na ’n woud geneem en daar is vir hulle gesê dat hulle doodgemaak sou word as hulle probeer om terug te gaan.
’n Verteenwoordiger van die takkantoor in Mexiko het na hierdie broers gegaan om hulle geestelik te ondersteun en om behuising vir hulle te reël. Wetlike verteenwoordigers van Jehovah se Getuies het gepraat met die direkteur van die Jalisco-regering, die menseregte-aanklaer, die streek-aanklaer en die direkteur van die kantoor wat aandag vestig op misdaadslagoffers. Hierdie wetlike owerhede is nou besig om hierdie misdade te ondersoek.
Broer Gamaliel Camarillo, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Mexiko, sê: “Ons is regtig geskok dat ons mede-aanbidders, wat in vrede in hulle gemeenskap lewe en die plaaslike tradisies respekteer, aangeval is net omdat hulle nie aan godsdiensgebruike wou deelneem wat teen hulle gewete is nie. Ons hoop dat die plaaslike owerheid hierdie godsdiensvervolging so gou as moontlik sal stopsit.”
Ons bid vir ons broers wat hulle huise en besittings verloor het. Ons vertrou dat Jehovah sal aanhou om hulle die nodige ondersteuning te gee deur middel van sy organisasie. — Jesaja 32:2.
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Mexiko: Gamaliel Camarillo, +52-555-133-3048
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000