Spring na inhoud

2 NOVEMBER 2018
MIKRONESIË

Supertifoon Yutu tref die Noordelike Mariana-eilande

Supertifoon Yutu tref die Noordelike Mariana-eilande

Op 24 Oktober 2018 het supertifoon Yutu, ’n kategorie-5-storm, die Noordelike Mariana-eilande getref. Die grootste eilande, Saipan en Tinian, is veral swaar getref. Huise is deur stormwinde van tot 280 kilometer per uur verwoes, en duisende mense is sonder elektrisiteit gelaat.

Volgens die takkantoor in Mikronesië, wat toesig hou oor die werk in die Noordelike Mariana-eilande, is geen broers of susters dood of beseer nie. Maar die huise van 15 Getuies is heeltemal verwoes, en nog 40 huise is beskadig. Die sendinghuis in Saipan sowel as die Koninkryksale in Saipan en Tinian is ook beskadig.

’n Noodlenigingskomitee organiseer die verspreiding van noodvoorraad aan dié wat deur die storm geraak is. Plaaslike Getuies sorg vir verkondigers wat as gevolg van die storm hulle huise moes verlaat. ’n Lid van die Takkomitee sal ook die rampgebied besoek om die broers geestelik aan te moedig.

Ons bid vir ons broers wat deur hierdie natuurramp getref is. Dit vertroos ons om te weet dat Jehovah “naby almal [is] wat hom aanroep” en dat hy ‘hulle hulpgeroep hoor’. — Psalm 145:18, 19.