Spring na inhoud

Plaaslike broers en susters saam met Getuie-prokureurs voor die administratiewe hof in Mongolië se hoofstad, Ulaanbaatar.

24 AUGUSTUS 2018
MONGOLIË

Oorwinning vir godsdiensvryheid in Mongolië: Jehovah se Getuies word weer geregistreer

Oorwinning vir godsdiensvryheid in Mongolië: Jehovah se Getuies word weer geregistreer

Jehovah se Getuies in die hoofstad van Mongolië, Ulaanbaatar, het op 14 Junie 2018 ’n sertifikaat by die stadsraad se kantoor gekry, wat Jehovah se Getuies in Mongolië weer wetlik geregistreer het.

’n Nuwe sertifikaat wat Jehovah se Getuies toelaat om wetlik te aanbid in Ulaanbaatar.

Daar word vereis dat godsdiensorganisasies in Mongolië elke jaar hulle registrasie moet hernu. Ons broers het dit elke jaar gedoen vandat hulle in 1999 vir die eerste keer geregistreer is. Maar in 2015 het die stadsraad geweier om ons regsentiteit in Ulaanbaatar weer te registreer. Toe, in Januarie 2017, het die stadsraad amptelik die regsentiteit van Jehovah se Getuies ongeldig verklaar en geweier dat hulle hulle godsdiensbedrywighede uitvoer. Die raad se verteenwoordigers het geweier om die bewyse oor te gee wat hulle gebruik het om by hulle besluit uit te kom. Die broers het toe besluit om teen die stadsraad se beslissing te appelleer.

Gedurende die administratiewe hof se verhoor het die stadsraad se prokureur probeer om die Russiese Hooggeregshof se beslissing as bewys te gebruik. Daardie beslissing het beveel dat al ons regsentiteite in Rusland gelikwideer moet word. Ons prokureurs het gewys dat daardie beslissing oor die hele wêreld gekritiseer word en in internasionale howe betwis word. Die hof is ook daaraan herinner dat Rusland se beslissing ná die stadsraad se besluit bereik is, en daarom kan die stadsraad dit nie gebruik om hulle besluit te regverdig nie.

Die administratiewe hof het ten gunste van Jehovah se Getuies beslis en tot die slotsom gekom dat die raad hoorsê as bewys gebruik het en nie bewyse van enige skadelike bedrywighede voorsien het nie. Dit het ook beslis dat die stadsraad die broers se basiese regte geskend het, insluitende die vryheid om ’n mens se godsdiens of geloof te beoefen.

Jason Wise, een van die Getuies se prokureurs in die saak, het gesê: “Hoewel basiese regte en vryhede nie van wetlike registrasie deur die Staat afhang nie, is dit dikwels moeilik om vryelik te aanbid sonder registrasie. Onder andere maak ons regsentiteit dit vir ons moontlik om Bybels en Bybellektuur in te voer, om plekke van aanbidding te besit en om byeenkoms-fasiliteite te huur. Ons is bly dat die administratiewe hof teen die stadsraad in Ulaanbaatar se beslissing besluit het en erken het dat so ’n beslissing ’n negatiewe uitwerking op ons godsdiensvryheid en -assosiasie in Mongolië sou hê.”