Spring na inhoud

4 MEI 2023
MOSAMBIEK

Christelike Griekse Geskrifte in Gitonga vrygestel

Christelike Griekse Geskrifte in Gitonga vrygestel

Op 30 April 2023 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Gitonga vrygestel gedurende ’n spesiale vergadering wat in Maxixe, Inhambane-provinsie, Mosambiek, gehou is. Broer Wayne Wridgway, ’n lid van die Takkomitee in Mosambiek, het die Bybel vrygestel aan ’n gehoor van 920. Diegene wat die vergadering bygewoon het, het ’n gedrukte kopie van die Bybel gekry. Digitale kopieë wat afgelaai kan word, was ook beskikbaar gemaak.

Gitonga word in die Inhambane-provinsie in Mosambiek gepraat. Die mense wat daar woon, is bekend vir hulle gasvryheid en vrygewigheid. Gitonga is die moedertaal van sowat 327 000 mense uit verskillende dele van hierdie provinsie, naamlik Homoíne, Jangamo, Maxixe en Morrumbene.

Die Gitonga-vertaalkantoor in Maxixe, Inhambane-provinsie, Mosambiek

Voorheen het die verkondigers dit moeilik gevind om die vertalings van die Bybel in Gitonga te verstaan. Met hierdie nuwe vrystelling is ons broers en susters bly dat hulle ’n vertaling kan lees wat maklik is om te verstaan. Een Bybelvertaler het gesê: “’n Liefdevolle pa gebruik natuurlike en eenvoudige woorde om met sy kinders te kommunikeer. Op ’n soortgelyke manier sal mense wie se moedertaal Gitonga is, maklik die woorde van ons liefdevolle Vader, Jehovah, in hierdie vertaling van die Bybel verstaan.”

Toe die Bybel vrygestel is, het broer Wridgway gesê: “As ons ’n hegte vriendskap met God wil hê, moet ons nie net elke dag in gebed met hom praat nie, maar ons moet ook elke dag na hom luister terwyl hy met ons praat deur middel van sy Woord, die Bybel. Ons moedig almal aan om julle kopie van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte so gou as moontlik te lees en om die Bybel elke dag te lees.”

Ons is bly saam met ons broers en susters oor hierdie vrystelling en bid dat Jehovah sal aanhou om die Gitonga-veld te seën. – Romeine 12:15