Spring na inhoud

9 MAART 2023
MOSAMBIEK

Christelike Griekse Geskrifte in Ronga vrygestel

Christelike Griekse Geskrifte in Ronga vrygestel

Op 5 Maart 2023 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Ronga vrygestel gedurende ’n spesiale vergadering wat in die Nasionale Stadion van Zimpeto, in Maputo, Mosambiek, gehou is. Broer Castro Salvado, ’n lid van die Takkomitee in Mosambiek, het die Bybel vrygestel aan ’n gehoor van 3 150. Dit is die eerste geleentheid in Mosambiek waar die Bybel in persoon vrygestel is vandat die COVID-19-pandemie begin het. Diegene wat die geleentheid in persoon bygewoon het, het ’n gedrukte kopie van die Bybel gekry.

Ronga is die moedertaal van ten minste 618 000 mense en word regdeur die provinsie Maputo in Mosambiek gepraat. Hoewel daar alreeds Bybelvertalings in Ronga is, gebruik baie van hierdie vertalings spelling en uitspraaktekens wat die meeste mense nie meer verstaan nie.

Een Bybelvertaler sê oor hierdie onlangse Bybelvertaling: “Ek is baie dankbaar vir hierdie geskenk! Ek weet my broers en susters is baie bly oor die Bybelvertaling wat eenvoudig en maklik is om te lees. Dit sal ons help om te hoor hoe Jehovah direk met ons harte praat.”

Ons is bly saam met ons broers oor hierdie vrystelling en bid dat Jehovah sal aanhou om die Ronga-veld te seën. – Romeine 12:15.