Spring na inhoud

22 JUNIE 2023
MOSAMBIEK

Volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Sjangaan (Mosambiek) vrygestel

Volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Sjangaan (Mosambiek) vrygestel

Op 18 Junie 2023 is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Sjangaan (Mosambiek) vrygestel. Broer Charles Fonseca, ’n lid van die Takkomitee in Mosambiek, het die Bybel vrygestel aan ’n gehoor van 16 245 mense in die stad Maputo, die hoofstad van Mosambiek. Diegene in die gehoor het ’n gedrukte kopie van die Bybel ontvang. ’n Digitale uitgawe kon ook afgelaai word.

Sjangaan (Mosambiek) word deur byna 4,2 miljoen mense gepraat, hoofsaaklik in die twee suidelikste provinsies van Mosambiek, naamlik Maputo en Gaza. Aangesien daar baie dialekte van Sjangaan (Mosambiek) is, het die vertaalspan woorde gebruik wat deur die meeste mense wat Sjangaan (Mosambiek) praat, verstaan sal word, maak nie saak waar hulle woon nie.

Voor die vrystelling van die volledige Bybel in hulle taal het die meeste verkondigers wat Sjangaan (Mosambiek) praat, die Bybel in Tsonga gebruik. Dit is ’n taal wat soortgelyk is aan Sjangaan (Mosambiek). As gevolg hiervan was dit vir party mense moeilik om Bybelwaarhede te leer. Een vertaler het gesê: “Nou, met hierdie nuwe vertaling, kan die Bybel se boodskap regtig die hart raak van diegene wat Sjangaan (Mosambiek) praat.”

’n Ander vertaler het ’n voorbeeld gegee van hoe die Nuwe Wêreld-vertaling in Sjangaan (Mosambiek) duideliker is. Hy het gesê: “In ander tale wat in die streek gepraat word, gebruik party Bybelvertalings woorde vir ‘gees’ wat verkeerd verstaan kan word as iets wat voortleef ná die dood van die liggaam. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling in Sjangaan (Mosambiek) dra die regte betekenis oor deur te sê dat die ‘lewenskrag’ na die Skepper terugkeer, nie na die persoon toe nie.”

Ons is bly om te sien hoe Jehovah sy ‘lig en waarheid uitstuur’ terwyl sy Woord selfs duideliker word vir diegene wat Sjangaan (Mosambiek) praat. – Psalm 43:3.