6 MAART 2015
MOSAMBIEK
Getuies voorsien noodleniging ná vernietigende oorstromings in Mosambiek
MAPUTO, Mosambiek—Van Desember tot middel-Januarie het weke van buitengewoon swaar reën in die Zambezia-provinsie van Mosambiek vernietigende oorstromings veroorsaak wat tot die dood van 158 mense gelei het. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mosambiek berig dat geen Getuies oorlede of beseer is nie. Die vloedwaters het egter twee plekke van aanbidding, wat Koninkryksale genoem word, beskadig en 225 huise van Getuies vernietig.
Die Getuies het etlike noodlenigingskomitees opgerig om in die behoeftes van hulle lede in die rampgebied te voorsien. Party Koninkryksale is ook gebruik as tydelike skuilings en sentrums om voedsel uit te deel. In Chire, ongeveer 1 500 kilometer van Maputo af, het vloedwaters die brûe tot die gebied vernietig, wat meer as 1 300 Getuies afgesonderd gelaat het. Mosambiek se Instituut vir Burgerlike Lugvaart het die Getuies toestemming gegee om meer as 17 ton noodlenigingsvoorraad met ’n helikopter na die gebied te neem.
’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Mosambiek, Alberto Libombo, sê: “Dit is wonderlik om te sien hoe vrygewig ons lede is wanneer hulle gevra word om met plaaslike noodlenigingspogings te help. Die takkantoor in Mosambiek gaan voort om basiese voedselitems te voorsien en reël om huise te herbou en te herstel. Ons sal aanhou om alles in ons vermoë te doen om geestelike vertroosting en hulp aan die slagoffers te bied.”
Mediaverteenwoordiger(s):
Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Mosambiek: Alberto Libombo, tel. +258 21 450 500
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000