Spring na inhoud

10 AUGUSTUS 2016
NAGORNO-KARABAKH

Gewetensbeswaarde word onregverdig opgesluit in Nagorno-Karabakh

Gewetensbeswaarde word onregverdig opgesluit in Nagorno-Karabakh

Twintigjarige Artoer Awanesjan dien tans ’n 30 maande lange vonnis uit in die Sjusji-strafkolonie van Nagorno-Karabakh ondanks sy bereidwilligheid om alternatiewe burgerlike diens te doen. Al die howe van Nagorno-Karabakh het geweier om sy basiese reg op gewetensbeswaar teen militêre diensplig te erken.

Mnr. Awanesjan, wat een van Jehovah se Getuies is, verduidelik sy sterk sedelike oortuigings en sê: “My gewete laat my nie toe om militêre diensplig te doen nie. Ek is lief vir my naaste en ek wil nie die wapen opneem of selfs leer om enigiemand leed aan te doen nie.” Hy sê verder: “Ek probeer nie my burgerlike plig ontduik nie. Ek het aansoek gedoen om alternatiewe burgerlike diens in plaas van militêre diens te doen, maar my aansoek is afgekeer.”

Pogings om alternatiewe diens te doen, word in die wiele gery

Op 29 Januarie 2014 het Mnr. Awanesjan ’n dagvaarding ontvang om aan te meld by die Militêre Kommissariaat van die stad Askeran in Nagorno-Karabakh. Die volgende dag het hy ’n aansoek ingedien waarin hy sy gewetensbeswaar teen militêre diensplig verduidelik en sy bereidwilligheid uitspreek om alternatiewe burgerlike diens te doen. Hy het ook ’n regsadviseur geraadpleeg omdat hy geweet het dat Nagorno-Karabakh geen voorsiening maak vir alternatiewe burgerlike diens nie.

Aangesien mnr. Awanesjan ’n Armeense paspoort het, het sy regsadviseur met amptenare in Armenië en Nagorno-Karabakh vergader, en dit het gelyk asof mnr. Awanesjan toegelaat sou word om sy alternatiewe diens in Armenië te doen. Om hierdie doel te bereik, het mnr. Awanesjan na Armenië getrek. Op 13 Februarie 2014 het hy sy aansoek vir alternatiewe diens by die Masis-Militêre Kommissariaat van die Republiek van Armenië ingedien.

Die raad vir alternatiewe diens in Armenië het mnr. Awanesjan nooit gekontak nie, maar op 14 Julie 2014 het die polisie in Jerewan, Armenië, hom na die polisiestasie ontbied, waar polisiebeamptes van Nagorno-Karabakh vir hom gewag het. Hulle het hom dadelik in hegtenis geneem en hom teen sy wil van Jerewan na Askeran, Nagorno-Karabakh, geneem—’n uitlewering sonder ’n verhoor, ’n hofbevel of enige ander formaliteite.

Aanhouding en verhoor

Op 14 Julie 2014 het mnr. Awanesjan, wat op daardie stadium net 18 jaar oud was, sy eerste nag in die tronk deurgebring. Hy het die volgende dag by sy verhoor uitgevind dat die Hof vir Eerste Instansie in Nagorno-Karabakh vroeër ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik het en beveel het dat hy in verhoorafwagtende aanhouding geplaas moet word. Die hof het toe sy vroeëre beslissing bevestig, en mnr. Awanesjan is opgesluit in die Sjusji-strafkolonie. Alle appèlaansoeke teen sy verhoorafwagtende aanhouding is afgekeer.

Op 30 September 2014 het regter Spartak Grigorjan van die Hof vir Eerste Instansie in Nagorno-Karabakh mnr. Awanesjan tot ’n 30 maande lange tronkstraf gevonnis op ’n aanklag van ontduiking van militêre diensplig. * Mnr. Awanesjan het appèl aangeteken teen die beslissing, maar die Appèlhof en die Hooggeregshof in Nagorno-Karabakh het sy skuldigbevinding bevestig. Hy sal tot Januarie 2017 in die tronk bly.

Onbevrees ondanks onreg

Shane Brady, een van sy regsadviseurs, sê: “Mnr. Awanesjan is op grond van sy sterk godsdiensoortuigings aangehou, in hegtenis geneem, aangekla en skuldig bevind. Ondanks die feit dat hy onregverdig opgesluit is, is hy vasbeslote om sy gewetensgetroue standpunt te handhaaf.” Mnr. Brady sê dat tronkbeamptes mnr. Awanesjan nou toelaat om sy Bybel en Bybelstudiehulpe te hê, en hulle laat ook toe dat sy familielede hom besoek.

Nadat mnr. Awanesjan van alle moontlike regsopsies gebruik gemaak het, het hy ’n aansoek by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien. Hy verwag ’n positiewe uitspraak (hoewel dit waarskynlik eers maande ná sy vrylating gelewer sal word) omdat die EHMR herhaaldelik die reg op gewetensbeswaar gehandhaaf het. In Bayatyan v. Armenia het die Groot Kamer van die EHMR beslis dat gewetensbeswaar teen militêre diensplig beskerm word deur die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens. Latere uitsprake deur die EHMR het hierdie beslissing bevestig. *

Die uitsprake deur die EHMR het gelei tot groter respek vir die basiese reg op gewetensbeswaar—selfs gedurende tye van onstabiliteit en oorlog. In Junie 2015 het ’n hoërhof in Oekraïne byvoorbeeld bevestig dat gewetensbeswaardes die reg het om alternatiewe diens gedurende militêre mobilisasie te doen.

Is daar hoop vir gewetensbeswaardes in Nagorno-Karabakh?

Jehovah se Getuies in Nagorno-Karabakh en regoor die wêreld hoop dat Nagorno-Karabakh gewetensbeswaar as ’n basiese mensereg sal erken. Sal die regering, in plaas daarvan om vreedsame jong mans in die tronk te gooi, gewetensbeswaardes die geleentheid bied om alternatiewe burgerlike diens te doen? As Nagorno-Karabakh die basiese reg op gewetensbeswaar erken, sal dit voldoen aan aanvaarde Europese standaarde en sal dit respek toon vir die opregte oortuigings van jong mans soos Artoer Awanesjan.

^ par. 10 Die 30 maande lange vonnis het met sy aanhouding op 14 Julie 2014 begin.

^ par. 13 Sien Erçep v. Turkey, nr. 43965/04, 22 November 2011; Feti Demirtaş v. Turkey, nr. 5260/07, 17 Januarie 2012; Buldu and Others v. Turkey, nr. 14017/08, 3 Junie 2014.