Spring na inhoud

Suster Poesjpa Ghimire (links) en Tirtha Maja Ghale (regs) aan mekaar vasgeboei net voordat hulle op 4 November 2019 uit die tronk in Nepal vrygelaat is

15 NOVEMBER 2019
NEPAL

Twee Jehovah se Getuies in Nepal is verkeerdelik skuldig bevind en wag vir appèlsaak

Twee Jehovah se Getuies in Nepal is verkeerdelik skuldig bevind en wag vir appèlsaak

Op 4 November 2019 is twee susters, Tirtha Maja Ghale en Poesjpa Ghimire, voorwaardelik uit die tronk vrygelaat. Hulle het meer as ’n maand van ’n drie maand lange vonnis uitgedien net omdat hulle hulle geloof beoefen het. Dit is ’n reg wat deur wetgewing in Nepal en internasionaal beskerm word.

Presies ’n jaar vroeër is suster Ghale en Ghimire gearresteer omdat hulle met mense wat in die Bybel belanggestel het, op die straat gepraat het. Nadat die susters 13 dae in die tronk was, het hulle ’n buitengewone hoë borgtog van meer as R13 000 betaal en is hulle vrygelaat. Maar die plaaslike owerheid het aangehou om ’n kriminele ondersoek teen die susters te doen.

Op 10 Desember 2018 het die susters se kriminele saak begin, en die verhore het tien maande aangehou. Op 25 September 2019 het die Roepandehi-distrikshof albei susters tot drie maande tronkstraf gevonnis. Hulle moes ook elkeen ’n boete van omtrent R300 betaal.

Die regter het gesê dat die susters daarvan skuldig is dat hulle mense probeer bekeer al het hulle net godsdienslektuur besit en versprei. Nepal is ’n lid van die Verenigde Nasies en van die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte. So die regering moet seker maak dat sy burgers die vryheid het om hulle godsdiensoortuigings te verander en om dit in die openbaar of privaat te beoefen. Suster Ghale en Ghimire het nie mense probeer dwing om van godsdiens te verander nie. Hulle het net godsdienslektuur gegee aan mense wat bereid is om te luister. Daarom het die susters se regsgeleerdes op 31 Oktober 2019 ’n appèlsaak by die Hooggeregshof gemaak. Die Hooggeregshof het beslis dat die susters nie in die tronk hoef te bly gedurende die appèlproses nie. Daarom is hulle vrygelaat terwyl hulle vir die hof se finale uitspraak wag.

Ons bid dat Jehovah sal aanhou om sy heilige gees vir suster Ghale en Ghimire te gee. Dit sal hulle krag, vreugde en vrede gee terwyl hulle vir die finale uitspraak deur die appèlhof wag. – Romeine 15:13.