Spring na inhoud

17 JUNIE 2015
NEPAL

Jehovah se Getuies regoor die wêreld werk saam om aardbewingslagoffers in Nepal te help

Jehovah se Getuies regoor die wêreld werk saam om aardbewingslagoffers in Nepal te help

KATMANDOE, Nepal—Jehovah se Getuies van Bangladesj, Duitsland, Indië, Japan, Switserland en die Verenigde State werk saam om slagoffers te help van die verwoestende aardbewing wat Nepal op 25 April 2015 getref het en duisende lewens geëis het, insluitende dié van ’n Getuie en haar twee kinders. ’n Tweede aardbewing het Nepal op 12 Mei 2015 getref. Maar die Getuies het bevestig dat geen van hulle lede in hierdie laaste aardbewing ernstige beserings opgedoen het, ernstige skade aan hulle eiendom gely het of hulle lewe verloor het nie.

Jehovah se Getuies voorsien twee keer per dag kos aan medeaanbidders en ander rampslagoffers.

Die dag ná die eerste aardbewing het verteenwoordigers van die kantoor van Jehovah se Getuies in Nepal elke gemeente in die Katmandoe-vallei besoek, ’n gebied wat erg deur die aardbewing beskadig is, om te kyk wat die slagoffers nodig het. Die aardbewing het 38 van die Getuies se huise vernietig en nog 126 beskadig. Dakloses is gehuisves in medegelowiges se huise, in hulle plekke van aanbidding, wat Koninkryksale genoem word, en in tente wat in oop gebiede opgerig is. Die kantoor in Nepal het ook kos begin voorsien, wat kort daarna aangevul is deur voorraad uit Bangladesj, Indië en die Nepalese stede Birgoeni, Damauli, Mahendranagar en Pokhara. ’n Noodlenigingskomitee koördineer die voortgesette pogings van Getuievrywilligers uit Indië, Japan en Nepal, wat tydelike skuilings oprig.

Vrywilligers van die Getuies se kantoor in Nepal berg noodlenigingsvoorraad wat uit die Nepalese stad Birgoeni gestuur is.

’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Nepal, Reuben Thapalija, sê: “Ons is nie net besorg oor die fisiese behoeftes van die rampslagoffers nie, maar ook oor hulle geestelike welsyn. Ons werk dus nie net om kos, water en skuiling te voorsien nie, maar ook om geestelike ondersteuning te bied.” ’n Verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, Gary Breaux, het van 2-5 Mei 2015 deur die rampgebied gereis en gemeentes en gesinne besoek. Op 4 Mei 2015 het mnr. Breaux toesprake gelewer gedurende ’n spesiale Bybelprogram wat terselfdertyd deur middel van videoverbinding na ander gemeentes in die gebied uitgesaai is. Wat meer is, ’n verteenwoordiger van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Japan, Kendji Tsjitsjii, het op 5 Mei 2015 daar aangekom. Hy het ook gesinne in die gebied besoek en opbouende Bybeltoesprake gelewer.

’n Verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, Gary Breaux (regs), kyk hoe erg ’n huis beskadig is.

Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland het ’n mediese span van Getuies versamel wat uit ’n narkotiseur, ’n chirurg, ’n verpleegster en paramedikus bestaan het. Hierdie span uit Europa is deur die Getuies in Bangladesj, Indië en Japan toegerus met medisyne, asook mobiele toerusting vir chirurgie en intensiewe sorg. Hulle het saam met die Nepalese noodlenigingskomitee gewerk om pasiënte in die rampgebied by Koninkryksale te behandel.

Die noodlenigingspan gebruik ’n Koninkryksaal in Katmandoe, waar Getuieslagoffers kos en skuiling gegee word.

J.R. Brown, ’n internasionale woordvoerder by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, sê: “Ons sit ons noodlenigingswerk voort omdat ons erken dat rampslagoffers nie net hulp nodig het om fisies van die katastrofe te herstel nie. Ons medeaanbidders in Nepal en ander wat die aardbewing oorleef het, kan dus verseker wees dat ons hulle materieel asook geestelike sal bystaan. Hulle is altyd in ons gedagtes en gebede.”

Mediakontakt(e):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Japan: Itjsiki Matsoenaga, tel. +81 46 233 0005

Nepal: Reuben Thapalija, tel. +977 9813469616

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000