11 JANUARIE 2023
NOORWEË
Noorweegse hof stel die saak uit om Jehovah se Getuies se registrasie te verwyder
Op 30 Desember 2022 het die Oslo-distrikshof ons broers se versoek vir ’n tydelike interdik toegestaan om te keer dat die regering Jehovah se Getuies se registrasie as ’n godsdiensgemeenskap in Noorweë verwyder. Dit was nodig omdat die provinsiegoewerneur van Oslo en Viken haar besluit aangekondig het om ons nasionale registrasie te verwyder. Die interdik laat toe dat ons ons registrasie behou totdat die hof die saak verder oorweeg. Die Departement van Jeug en Gesinne stem nie saam met hierdie hofbevel nie.
Die distrikshof se interdik hou onmiddellike voordele in vir ons broers en susters, insluitende paartjies wat verloof is. In Noorweë stel die regering net persone van ’n geregistreerde godsdiens aan om huwelike te bevestig. Toe die regering aangekondig het dat hulle Jehovah se Getuies se registrasie sou verwyder, het dit beteken dat huweliksbevestigers wat Getuies is, hulle aanstelling sou verloor en nie meer huwelike kon bevestig nie. Maar die interdik laat nou toe dat een van Jehovah se Getuies verloofde paartjies by ’n plaaslike Koninkryksaal kan trou.
Broer André Bjørnstad en suster Yasmin de Andrade Montelo is een van die verloofde paartjies wat hierdeur geraak is. Hulle kommentare was ingesluit by die interdik wat op 28 Desember 2022 ingedien is. Broer Bjørnstad het erken dat party dalk sal wonder hoekom hy en sy verloofde so sterk daaroor voel om deur een van Jehovah se Getuies getrou te word. Hy het verduidelik: “Vir baie mense is daar ’n verband tussen hulle geloof en hulle oortuigings. Wanneer dit nie gerespekteer word nie, kan dit voel asof jy ’n deel van jou eie identiteit verloor.”
Voor Noorweë se besluit om Jehovah se Getuies se registrasie te verwyder, het die regering ons reg geweier om finansiële bystand by die Staat te kry, iets wat ons al meer as 30 jaar lank ontvang het. Die regering gee hierdie finansiële bystand aan meer as 700 geregistreerde godsdienste in die land. Op 21 Desember 2022 het Jehovah se Getuies ’n hofsaak teen die Noorweegse regering gemaak sodat hulle hulle besluit kan verander.
Die regering van Noorweë stem nie saam met ons skriftuurlike oortuigings en gebruike wat verband hou met uitsetting nie. Die goewerneur het selfs daarop aangedring dat Jehovah se Getuies hulle uitsettingsreëling moet verander om hulle registrasie te behou. Die optrede teen Jehovah se Getuies is nie gebaseer op enige deskundige opinies of hofuitsprake nie.
Die goewerneur het gesê dat die verlies aan registrasie nie keer dat daar godsdiensvryheid is nie. Maar in soortgelyke sake waar die registrasie van ons organisasie geweier was, het die Europese Hof van Menseregte beslis dat dit ’n skending van die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies is. a
Broer Jørgen Pedersen, ’n lid van die Takkomitee in Skandinawië, sê: “Jehovah se Getuies in Noorweë het al meer as 130 jaar lank vreedsaam aanbid. Ons basiese regte en vryhede word deur die Noorweegse grondwet en die Europese Konvensie oor Menseregte beskerm. As die Noorweegse howe ten gunste van ons beslis, sal dit die regte en vryhede van alle burgers van Noorweë nog meer beskerm.”