20 JULIE 2022
OEKRAÏNE
Broers en susters help ander al het hulle self baie min
Amper 47 000 Getuies van Jehovah moes hulle huise verlaat as gevolg van die oorlog in Oekraïne. Baie het na veiliger dele van die land gevlug, waar hulle broers en susters vir hulle klere, maaltye, blyplek en ander noodsaaklikhede gegee het. Al het hierdie gasvrye broers en susters ook ekonomiese probleme, is hulle bereid om hulle medegelowiges wat in die nood is, te help.
Olha in Oeman, Oekraïne, en haar man wat nie ’n Getuie is nie, het gedurende die eerste twee maande van die oorlog verblyf gegee aan altesaam 300 verkondigers. Baie van hierdie broers en susters wat gevlug het, het net een nag oorgebly voordat hulle verder gegaan het. Olha het dikwels in die middel van die nag kort kennisgewing gekry voordat mense by haar huis opgedaag het. Eenkeer het Olha verblyf gegee aan 22 broers en susters op dieselfde tyd. Hierdie ondervinding het ook Olha se 18-jarige seun, Stanislaf, die geleentheid gegee om vrygewig te wees. Hy slaap dikwels op die vloer sodat die broers wat moes vlug, in sy kamer kan slaap.
Olha sê: “Ek is baie bly dat ek gedurende hierdie aaklige tye Jehovah se volk kan help. Dit maak my baie gelukkig.”
Andri en sy vrou, Lioedmila, het oor ’n tydperk van vyf weke verblyf gegee aan 200 Getuies. Hulle het eenkeer op een nag vir 18 mense slaapplek gegee. Andri sê: “Ons het die riglyne van die takkantoor gevolg, en daarom het ons ’n voorraad van kos gehad. Dit was genoeg om ’n week en ’n half lank kos te gee aan die broers en susters wat gevlug het. Die broers het kaartjies met geld gelos, en ons het dit dan gebruik om kos te koop vir die volgende gaste. Die Noodlenigingskomitee het ook kos gegee, so ons het niks kortgekom nie.”
In Maart het Vita van Iwano-Frankifsk uit haar woonstel getrek en by haar suster gaan woon sodat Getuies wat hulle huise moes verlaat, die woonstel kon gebruik. Vita sê: “Ek beskou dit nie as ’n opoffering nie, maar as ’n daad van liefde. Wat ek doen vir die broers wat moes vlug, maak my gelukkig. Ons is almal een familie.”
Natalia woon saam met haar man en dogter, Habriela, in Ternopil. Hulle almal het hulle werk verloor toe die oorlog begin het, en hulle het die meeste van die geld wat hulle gespaar het, gebruik om vir hulleself te sorg. Tog was hulle bereid om blyplek te gee aan ’n suster en haar gestremde dogter wat hulle huis moes verlaat.
Natalia sê: “Ek onthou die ondervinding van ’n suster in Afrika wat baie min materieel gehad het, maar nog steeds blyplek gegee het aan 14 broers en susters gedurende ’n streekbyeenkoms, en niemand het iets kortgekom nie.” Sy verduidelik dat hierdie ondervinding haar gehelp het om ander se belange eerste te stel.
Hoewel ons broers en susters in Oekraïne moeilike omstandighede het, vertrou hulle op Jehovah terwyl hulle “altyd gasvry” is. – Romeine 12:13.