Spring na inhoud

Lioedmila Mozoel en Katerina Rozdorska het albei hulle mans verloor as gevolg van die militêre konflik in Oekraïne. Die ondersteuning van Jehovah en hulle broers en susters help hulle om te volhard

22 APRIL 2022
OEKRAÏNE

“Daardie aand het Jehovah nie net my hand vasgehou nie, hy het my in sy arms gedra”

Twee susters in Oekraïne word deur Jehovah se beloftes versterk nadat hulle mans sterf

“Daardie aand het Jehovah nie net my hand vasgehou nie, hy het my in sy arms gedra”

Met Jehovah se hulp kan suster Lioedmila Mozoel en Katerina Rozdorska die fisiese en emosionele pyn hanteer wat deur die oorlog veroorsaak is. Hulle mans, Petro Mozoel en Dmitro Rozdorski, is van die eerste Getuies van Jehovah wat gesterf het as gevolg van die oorlog in Oekraïne. Ongelukkig het 34 van ons broers en susters tot dusver in die oorlog gesterf.

Petro en Lioedmila Mozoel

Petro en Lioedmila is albei in 1994 gedoop. Die paartjie was 43 jaar lank getroud.

Lioedmila sê: “My broers en susters deel elke dag woorde van aanmoediging met my. Hulle oproepe hou nie op nie. ’n Brief met woorde van simpatie van die takkantoor in Oekraïne het my ook diep geraak.”

Die oorlog het op 24 Februarie 2022 begin. Petro, wat as ’n bedieningskneg in ’n gebaretaalgemeente gedien het, is op 1 Maart 2022 dood terwyl hy en sy familie probeer vlug het van die geweldige bomaanvalle in Charkif.

Ná ’n hele paar dae van bomaanvalle het vegvliegtuie oor die stad begin vlieg en dit aangeval. Die familie het ’n paar noodsaaklike dinge bymekaargemaak en binne 30 minute vertrek. Petro en Lioedmila was in een kar. Hulle seun, Oleksi, en sy vrou, Marina, was in ’n ander kar. Lioedmila sê: “Ons het in die straat van ’n woongebied afgery toe daar ’n lugaanval was. Die kar het letterlik geskud as gevolg van die ontploffings.”

Petro, wat 67 jaar oud was, het uitgeswaai om ’n ongeluk met Oleksi se kar te vermy, maar hy is ernstig beseer. Petro en Lioedmila is na die hospitaal geneem waar hy later oorlede is. Lioedmila het beserings aan haar been en maag opgedoen as gevolg van metaalstukkies van die bomme. Oleksi en Marina is nie beseer nie. Lioedmila het van Petro se dood uitgevind toe sy drie dae later uit die hospitaal ontslaan is.

Lioedmila sê: “Hoe meer ek nadink oor Jehovah se goedheid en wonderlike doel, hoe meer ervaar ek innerlike vrede. Ek is seker daarvan dat ek my man weer in die nuwe wêreld sal sien, en ek kan nie wag vir daardie gelukkige oomblik nie.”

Katerina en Dmitro Rozdorksi

Dmitro en Katerina was agt jaar getroud. Toe hy van sy werk af bel, was sy laaste woorde aan haar: “Ek sal nou-nou by die huis wees.”

Ure later, op 8 Maart 2022, het iemand wat saam met Dmitro werk, Katerina gebel en gesê dat hy op ’n landmyn getrap het. Dmitro is na die hospitaal geneem. Hy het vyf ure later gesterf terwyl hy in die teater was.

Nadat Katerina van Dmitro se dood gehoor het, het sy gesê: “Daardie aand het Jehovah nie net my hand vasgehou nie, hy het my in sy arms gedra. Ek het gevoel dat Jehovah baie na aan my was.”

Dmitro, wat 28 jaar oud was, is in 2006 gedoop en het as ’n ouerman in die Donetsk-streek in Oekraïne gedien.

Kort ná ’n gedenkdiens vir Dmitro het Katerina 12 ure na ’n veiliger gebied in Oekraïne gereis. “Broers en susters van regoor Oekraïne asook ander lande het my aangemoedig. Hulle het soveel liefde in my hart gesit, wat help om my pyn ligter te maak.”

Sy sê verder: “Ek vind ook vertroosting in die bediening. . . . Wanneer dinge baie moeilik vir my raak, sê ek tekste uit die Bybel op soos Filippense 4:6, 7.”

Ons is oortuig dat Jehovah sal aanhou om ’n bron van krag en vertroosting te wees vir ons liewe broers en susters wat geliefdes in die militêre konflik in Oekraïne verloor het. – Psalm 61:1-3.