Spring na inhoud

20 NOVEMBER 2020
OEKRAÏNE

EHMR gee gunstige uitsprake vir Jehovah se Getuies in Oekraïne

EHMR gee gunstige uitsprake vir Jehovah se Getuies in Oekraïne

Hof veroordeel Oekraïne omdat dit nie mense gestraf het vir misdade teen ons broers as gevolg van godsdienshaat nie

Op 12 November 2020 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) drie uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in Oekraïne gelewer. Die sake is Zagubnya and Tabachkova v. Ukraine, Migoryanu and Others v. Ukraine en Kornilova v. Ukraine. Dit is in 2014 en 2015 by die Hof ingehandig. In elke saak het die polisie niks gedoen toe Jehovah se Getuies gewelddadig aangeval is nie. Die EHMR het gesê dat die owerheid in Oekraïne nie ons broers se regte ten volle beskerm het nie en het beveel dat elke slagoffer 14 700 euro (omtrent R268 000) kry as vergoeding.

Zagubnya and Tabachkova v. Ukraine: Op 20 April 2009 het suster Zagoebnja en Tabatsjkowa velddiens gedoen in die dorpie Nowi Mlini. Toe Mikola Lisenko, ’n priester van ’n plaaslike Ortodokse Kerk, die susters op die straat kry, het hy hulle wreed op hulle kop en rug met ’n houtstok geslaan. Die priester is nooit gestraf nie, al het hy eintlik erken dat hy ons susters wou “intimideer” en “hulle bedrywigheid wou stop”.

Migoryanu and Others v. Ukraine: Op 5 April 2012 het 21 Getuies van Jehovah en ’n paar gaste bymekaargekom vir die Herdenking van Jesus Christus se dood. ’n Groep mense wat deur ’n Ortodokse priester, mnr. Grekoe, gelei is, het hierdie vergadering onderbreek. Die groep het die mense wat daar was, insluitende kinders en bejaarde vroue, gevloek en gedreig.

Met verloop van tyd het die priester en sy handlangers aangehou om Jehovah se Getuies aan te val. Hulle het die broers fisies geslaan, een broer se kar uitgebrand en ’n handgemaakte bom in ’n huis gegooi waar Getuies geslaap het. Die slagoffers het hierdie gewelddadige aanvalle by die polisie gerapporteer en bewyse gegee. In party gevalle is die aanvallers op video opgeneem. Maar die polisie het geweier om te erken dat die misdade deur godsdienshaat gemotiveer is en het gesê dat die aanvallers nie op die video’s geïdentifiseer kan word nie. Die priester en sy handlangers was nooit gestraf nie.

Kornilova v. Ukraine: Op 7 Maart 2013 in die dorp Nosifka het suster Kornilowa en Serdioek hulle bure genooi om die Herdenking van Christus se dood by te woon. Een man het op die susters begin vloek en beledigings oor hulle godsdiens geskree. Hy het hulle toe aangeval en suster Kornilowa so hard in haar gesig geslaan dat sy ernstig beseer is. Sy was 11 dae in die hospitaal. Die polisie het geweier om te aanvaar dat die aanval deur godsdienshaat gemotiveer is en het gesê dat ons suster ’n slagoffer van “persoonlike vyandigheid” is. Die hof het die aanvaller ’n klein boete gegee.

Van links na regs: Suster Tetjana Kornilowa, suster Tetiana Zagoebnja, suster Maria Tabatsjkowa en broer Wasil Migorjanoe. Vier van baie Getuies van Jehovah wat tussen 2009 en 2013 aangerand is as gevolg van godsdienshaat in Oekraïne

Verteenwoordigers van die takkantoor in Oekraïne het baie keer met plaaslike, nasionale en internasionale amptenare bymekaargekom om die vervolging te bespreek. Nadat die broers al hierdie opsies probeer het, het hulle in 2014 die sake by die EHMR ingedien. Interessant genoeg het amptenare die vorige jaar die godsdiensonverdraagsaamheid in Oekraïne begin oplet. ’n Verslag in 2013 deur die Ombudsman in Oekraïne sê: “Omdat die polisie nie misdade ondersoek wat dalk deur godsdienshaat gemotiveer is nie, voel die misdadigers dat hulle kan aanhou om mense aan te val.” In die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee se periodieke verslag van 2013 oor Oekraïne het hulle ook gesê dat hulle bekommerd is dat haatmisdade, insluitende dié teen Jehovah se Getuies, deur Oekraïne behandel word as minder ernstige misdade. Die Komitee het tot die slotsom gekom dat die regering in Oekraïne “harder moet werk om seker te maak dat beweerde haatmisdade deeglik ondersoek moet word, aanvallers geregtelik vervolg moet word . . . en as hulle skuldig bevind word, hulle gepaste straf moet kry en slagoffers die regte vergoeding moet kry”.

In onlangse jare het die regering in Oekraïne stappe begin neem om die situasie te verbeter. Al het Jehovah se Getuies in die land godsdiensvryheid, hoop ons dat hierdie drie EHMR-uitsprake die owerhede in Oekraïne en ander lande sal aanmoedig om aan te hou om die godsdiensvryheid van ons broers en susters te beskerm. Ons sien uit na die tyd wanneer Jehovah, wie se ‘weë geregtigheid is’, ’n einde sal maak aan die vervolging van sy aanbidders. – Deuteronomium 32:4.