Spring na inhoud

Broer Oleksandr Tretiak

28 DESEMBER 2020
OEKRAÏNE

EHMR gee uitspraak ten gunste van broer Oleksandr Tretiak, wat aangerand is vir sy geloof

EHMR gee uitspraak ten gunste van broer Oleksandr Tretiak, wat aangerand is vir sy geloof

Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het op Donderdag 17 Desember 2020 ’n uitspraak ten gunste van broer Oleksandr Tretiak gelewer in die saak van Tretiak v. Ukraine. Broer Tretiak is op 26 November 2013 wreed aangerand deur drie aanvallers terwyl hy op pad huis toe was ná velddiens. Die EHMR het beslis dat die Oekraïense owerhede die misdaad nie deeglik ondersoek het nie. Die Hof het vergoeding van R133 347,31 toegestaan.

Broer Tretiak was so erg aangerand dat hy amper ’n maand lank in die hospitaal was. Die polisie het eers drie maande ná die aanval die toneel van die misdaad ondersoek. Hulle het ook geweier om te erken dat broer Tretiak aangeval is omdat hy een van Jehovah se Getuies is en dat hy baie erg beseer is. Later het die polisie die aanklag verander en gesê dat dit net ’n geringe misdaad is. Boonop het hulle net een van die drie aanvallers aangekla, en dit eers nadat hy uit die land gevlug het. En daar is gesê dat die ander twee aanvallers, waarvan een in die polisie was, bloot net ooggetuies was. Niemand is ooit gestraf nie. Hierdie en ander duidelike onregte het gemaak dat broer Tretiak sy saak in 2015 by die EHMR aangegee het.

Die EHMR het in hulle besluit gesê dat “die [Oekraïense] owerhede nie deeglik ondersoek ingestel het in die mishandeling van die aansoeker nie”, en dat dit ’n verbreking van die Europese Konvensie oor Menseregte is.

Ons hoop dat hierdie uitspraak sal help om die godsdiensregte van ons broers en susters in die Oekraïne en ander lande te beskerm. En ons wil net vir Jehovah dankie sê, wat ons help om geregtigheid te kry. – Klaagliedere 3:59.