Spring na inhoud

31 OKTOBER 2019
OEKRAÏNE

EHMR-uitspraak gee Jehovah se Getuies in Oekraïne die reg om Koninkryksaal te bou

EHMR-uitspraak gee Jehovah se Getuies in Oekraïne die reg om Koninkryksaal te bou

Op 3 September 2019 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n uitspraak ten gunste van Jehovah se Getuies in die stad Krivji Rih, Oekraïne, gelewer. Die Hof het die stadsraad van Krivji Rih skuldig bevind omdat hulle opsetlik geweier het om toestemming te gee sodat die broers ’n Koninkryksaal kan bou.

Broers voor die eiendom waar hulle van plan was om ’n Koninkryksaal te bou in die stad Krivji Rih, Oekraïne

Die Hof het gesê dat die stadsraad geweier het om twee internasionale wette te gehoorsaam. Die een wet is Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte wat die vryheid van denke, gewete en godsdiens beskerm. Die ander wet is Artikel 1 van Protokol nr. 1 van die Europese Konvensie oor Menseregte wat mense die reg gee om eiendom te besit of te koop. Die hof het ook gesê dat die stadsraad bietjie meer as R115 000 aan die twee gemeentes wat die eiendom besit, moet betaal. Die regering van Oekraïne het drie maande om teen die saak te appelleer by die EHMR se hoogste hof, die Groot Kamer.

Die twee gemeentes in Krivji Rih het al meer as 15 jaar gelede aansoek gedoen om hulle Koninkryksaal te bou. Op 9 Augustus 2004 het hulle ’n woongebou op ’n stuk grond gekoop wat onder die stad se beheer was. Hulle het toe aansoek gedoen vir ’n huurkontrak van vyf jaar vir die grond om ’n Koninkryksaal te bou. Die stadsraad het die eerste goedkeuring op 28 September 2005 gegee. Die stadsraad het ook die broers herinner dat hulle hulle bouprojek deur sekere staatsagentskappe moet laat hersien sodat hulle die finale toestemming kan kry om met die bouprojek te begin.

Die planne is opgetrek, goedgekeur deur die gepaste owerhede en ingegee vir finale goedkeuring by die stadsraad op 23 Augustus 2006. Hoewel die stadsraad wetlik verplig is om binne ’n maand ’n besluit te neem, het hulle nooit op die broers se aansoek gereageer nie. Selfs nadat ’n streekhof bevestig het dat die stadsraad die wet gebreek het, het die raad nog steeds geweier om finale toestemming te gee. Ander howe kon nie die broers help nie, en daarom het hulle op 13 April 2010 ’n klag by die EHMR gelê.

Ons is bly dat die EHMR ten gunste van ons broers in Krivji Rih beslis het. Ons bid dat die EHMR se uitspraak dit makliker sal maak vir ons broers om plekke van aanbidding van Jehovah in lande te bou waar hulle nie die vryheid het om dit te doen nie. – Psalm 118:5-9.