Spring na inhoud

Suster Olena voor haar huis, wat erg beskadig is deur ’n ontploffing. Die broers en susters het dadelik kom help

4 JULIE 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #10 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Voorbeelde van “moed, sorg en betroubaarheid”

JONGSTE NUUS #10 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Ons broers en susters in Oekraïne het nie opgehou om mekaar te ondersteun nie. Hulle hou aan om onselfsugtige liefde aan mekaar te wys.

Suster Olena is 81 jaar oud. Op 6 Junie het ’n bom baie naby aan haar huis ontplof. Die bom het haar bure se huis vernietig en ’n gat van sewe meter diep gemaak. Die ontploffing was so kragtig dat suster Olena se huis erg beskadig is.

Sy vertel: “Ek het geslaap toe ’n muur reg langs my kop geval het. Die lug was gevul met dik, donker stof. Glas en klippe het oral gelê. Ek dank Jehovah dat ek dit oorleef het.” Die plaaslike broers en susters het kom kyk hoe dit met suster Olena gaan minute ná die ontploffing, insluitende ’n broer wie se huis erg beskadig is. Suster Olena vertel verder: “Toe die broers daar aankom, was hulle stomgeslaan. Die feit dat hulle daar was, het my aangemoedig. Dit was so lekker dat hulle daar vir my was.”

Serhi, ’n ouerman wat suster Olena gereeld saam met jongmense van die gemeente besoek, sê: “Toe ek hoor van die ontploffing naby suster Olena se huis, was ek so bang en bekommerd. Ek was verlig toe ek sien dat sy nie ernstig gewond is nie, maar net ’n paar kneusplekke gehad het. Dit was wonderlik dat die eerste ding wat suster Olena wou hê nadat haar huis vernietig is, was die Bybelpublikasies wat sy ’n paar dae tevore ontvang het.”

Gelukkig het haar familie vir haar ’n nuwe huis gekry. Die gemeente hou aan om haar te help, en die ouermanne kontak suster Olena elke dag. Die broers en susters het vir haar gehoortoestelle gekry sodat sy by die gemeentelike vergaderinge kan baat vind. Sy sê: “Soms voel ek swak, maar die vergaderinge gee my krag. My mede-aanbidders bel my gereeld, en ek is baie dankbaar hiervoor.”

Een getroude paartjie het vertel hoe hulle saam met 200 ander verkondigers in ’n vertrek onder die Koninkryksaal weggekruip het. Die vrou het geskryf: “Ek was veral beïndruk deur die sorg wat die liefdevolle ouermanne voorsien het. Hulle het my aan Dawid laat dink, wat die dood in die gesig gestaar het toe hy teen ’n leeu en ’n beer geveg het om die skape te red. Die ouermanne wat daar was, het hulle lewe in gevaar gestel om kos en water, sowel as petrol te kry sodat ons lig kon hê. As gevolg daarvan kon ons ons gemeentelike vergaderinge en velddiensvergaderinge hou. Selfs toe daar baie bomaanvalle was, het hierdie ouermanne die broers en susters wat in hulle huise gebly het, gereeld besoek en vir hulle kos en water geneem en hulle vertroos. Ek het baie respek vir daardie ouermanne. Voor hierdie gebeure het ek hulle gesien as predikers en onderrigters, maar nou sien ek hulle as betroubare herders. Ek is so dankbaar vir hulle voorbeeld van moed, sorg en betroubaarheid!”

Die verkondigers in een gemeente in Oekraïne het aan die takkantoor in Oekraïne geskryf oor diegene wat die leiding neem in die noodlenigingswerk: “Ons harte is gevul met waardering. Ons is verbaas oor hoe Jehovah vir ons sorg deur middel van ons mede-aanbidders. Ons het werklik Jesus se woorde ondervind: ‘So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.’” – Johannes 13:35.

Tot en met 21 Junie 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 42 verkondigers het gesterf

  • 83 verkondigers is beseer

  • 31 185 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 495 huise is heeltemal vernietig

  • 557 huise is erg beskadig

  • 1 429 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 5 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 8 Koninkryksale is erg beskadig

  • 34 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 52 348 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 23 433 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp