Spring na inhoud

Twee verkondigers wat aan die openbare getuieniswerk in Oekraïne deelneem

18 JULIE 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #11 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

“Om te doen wat goed is” in ’n land waar daar oorlog is

JONGSTE NUUS #11 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Regdeur Oekraïne ervaar die broers en susters baie vreugde omdat hulle weer in die openbaar kan preek, en hulle het baie goeie ondervindinge. Kringopsieners en die plaaslike ouermanne het gesê dat mense bly is om ons lektuurtrollies weer te sien. Hulle het selfs gesê dat hulle dit gemis het om Jehovah se Getuies in hulle gebied te sien.

Tatiana van die Serhifka-gemeente in die Odesa-streek het besluit om die mense te besoek wat sy voor die pandemie gekontak het. Sy verduidelik: “Ek kon van die begin af gesien het hoe Jehovah ons pogings seën om weer met die bediening te begin.” Eenkeer het sy ’n vrou besoek wat voor die pandemie nee gesê het vir ’n Bybelstudie. Maar nou wou die vrou baie graag oor die Bybel gesels, en sy het ’n Bybelstudie gretig aanvaar. Tatiana sê: “Ek moet al my herbesoeke wat ek in die verlede gehad het, besoek, en vir elkeen van hulle ’n Bybelstudie aanbied!”

Jewheni en Lilia is oorspronklik van Marioepol. Hulle moes uit hulle huis vlug en woon nou in ’n veiliger deel van Oekraïne. Hulle albei preek gereeld. Hulle verduidelik dat die bediening hulle help om nie op hulle probleme te fokus nie. Hulle het gesê: “Ons het geweet dat ons lewe nooit weer dieselfde sal wees nie. Dit is baie moeilik om ’n nuwe lewe te begin, maar ons onthou dat Jehovah se hand nie te kort is nie. Ons het sy heilige gees, en ons broers is gereed om ons te help om ’n nuwe lewe in ’n nuwe plek te begin.”

In ander dele van die land gee ons broers se goeie werke ook ’n getuienis. Byvoorbeeld, ’n groep broers in die stad Mikolaif het ’n internasionale noodlenigingsorganisasie gehelp om ’n groot pakhuis wat vir noodlenigingswerk gebruik word, reg te maak en te organiseer. Die broers het die waterstelsel reggemaak, rakke opgesit en ’n paar ton goedere georganiseer. Toe ’n verteenwoordiger van die noodlenigingsorganisasie die werk kom inspekteer het, het sy begin huil. Sy het gesê: “Ek het nie verwag om sulke goeie resultate te sien nie.”

Alhoewel ons mede-aanbidders in Oekraïne deur moeilike tye gaan, ondervind hulle vreugde omdat hulle aktief in die bediening bly en aanhou “om te doen wat goed is”. – Galasiërs 6:9.

Tot en met 13 Julie 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 42 verkondigers het gesterf

  • 97 verkondigers is beseer

  • 28 683 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 524 huise is heeltemal vernietig

  • 588 huise is erg beskadig

  • 1 554 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 5 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 10 Koninkryksale is erg beskadig

  • 36 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 52 947 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 23 863 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp