Spring na inhoud

Twee word gedoop in Oekraïne op 23 Julie 2022

12 AUGUSTUS 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #12 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

“Selfs die oorlog kan nie die dissipelmaakwerk laat ophou nie”

JONGSTE NUUS #12 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Vanaf 23 tot 31 Julie is verkondigers regoor Oekraïne en in ander lande waarheen hulle gevlug het, gedoop gedurende die Streef vrede na!-streekbyeenkoms vir 2022. Tot en met 2 Augustus is altesaam 1 113 mense van Oekraïne gedoop. ’n Broer in Oekraïne het gesê: “Selfs die oorlog kan nie die dissipelmaakwerk laat ophou nie omdat Jesus belowe het: ‘Ek is met julle al die dae.’” – Matteus 28:20.

Ons deel graag die volgende ondervindinge met julle.

Natalia van Kreminna, Loehansk-streek, is 63 jaar oud. Sy en haar twee dogters het saam met Jehovah se Getuies in die 1990’s begin studeer. Haar dogters het geestelike vordering gemaak en is gedoop, maar sy het nie. Toe die oorlog uitgebreek het, het ’n familie van Jehovah se Getuies Natalia saam met hulle gevat toe hulle na ’n veiliger gebied gevlug het. Sy is blyplek gegee in ’n Koninkryksaal in Iwano-Frankifsk.

Natalia sê: “Ná die aaklige bomaanvalle het dit gevoel asof ek vergeet het hoe om te glimlag. Die broers en susters het opregte liefde aan my getoon. Ek het nie verwag dat hulle soveel in my behoeftes sou voorsien nie. Dit is toe dat my liefde vir Jehovah weer begin groei het. Ek het die Bybel baie begin lees, en ’n suster het vir my ’n Bybelstudie in die boek Geniet die lewe vir ewig! aangebied. Sy was Jehovah se geskenk aan my.” Natalia voeg by: “Nou is ek so bly om as een van Jehovah se Getuies gedoop te wees. Ek wil gehoorsaam wees aan die grootste gebod: om Jehovah my God lief te hê met ‘my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand’.” – Matteus 22:37.

Olia, in Pole, hou ’n handgemaakte teken vas met die streekbyeenkoms se tema: Streef vrede na!

Olia van Tsjerkasi was ’n ongedoopte verkondiger toe die oorlog begin het. Op 6 Maart het sy saam met haar dogter en kleindogter na Pole gevlug. Sy sê: “Ons het met net ons grypsakke daar aangekom, maar my geestelike broers en susters het vir ons al drie gesorg. Dit alles het my oortuig dat Jehovah se organisasie verenig is en deur sy gees gelei word. Hierdie ondervinding het my meer vasbeslote gemaak om my lewe aan Jehovah toe te wy. Hy het my in my donkerste oomblikke gehelp, en nou wil ek hom dien en vir hom wys hoe dankbaar ek is.”

Julia van die Donetsk-streek is 18 jaar oud. Sy het in ’n Getuie-gesin grootgeword, maar het nooit tot doop gevorder nie. Sy vertel ’n ondervinding wat gebeur het kort nadat die oorlog begin het. Sy sê: “Ek het op die vloer gelê en besef dat ek enige oomblik kan doodgaan. Die hele straat waar my familie gewoon het, was verwoes, maar ons het dit oorleef. Nadat ek hierdeur gegaan het en oor Jehovah se eienskappe gebid en nagedink het, het ek nader aan hom gekom en nie meer getwyfel dat ek my lewe aan Jehovah moet toewy nie. Deur my gebede te beantwoord, het Jehovah gewys hoe na hy aan my is. Ek het voorheen net kennis oor God gehad, maar nou is ek lief vir hom.” Julia is op 23 Julie gedoop.

David, 11 jaar oud, voor sy doop in Duitsland

Toe die oorlog begin het, het die 11-jarige David saam met sy familie na Duitsland gevlug. Hy het ’n ongedoopte verkondiger geword toe hy nege jaar oud was. Hy sien nou daarna uit om sy geestelike doelwitte in Jehovah se diens te bereik. Hy sê: “Ek het besluit om gedoop te word omdat ek lief is vir Jehovah en sy vriend wil wees. Toe ek gedoop is, het ek van blydskap gehuil omdat ek nou deel is van Jehovah se wonderlike familie. Ek hou daarvan om mense te vertel van Jehovah en sy doel vir die mens, so my volgende doelwit is om ’n pionier te word. Ek wil ook graag my broers en susters in die gemeente dien, en daarom hoop ek om eendag ’n bedieningskneg te word. My grootste doelwit is om by Bethel te dien. Dit is my droom vandat ek die takkantoor in Lviv in 2018 besoek het.”

Olena van Kijif het in 2011 ’n ongedoopte verkondiger geword. Sy was tien jaar lank onbedrywig. In 2020 het gemeentelike ouermanne haar gekontak en vir haar die brosjure Keer terug na Jehovah gegee. Sy sê: “Ek het weer die Bybel begin studeer en vergaderinge bygewoon. Maar ná ’n ruk het ek weer opgehou. Gedurende die oorlog het Jehovah my gebede beantwoord, en ek het besef dat Jehovah my beskerm het, sy liefde vir my gewys het en my innerlike vrede gegee het. Ek het na Roemenië gevlug en die Getuies gevind. Die liefde en sorg wat ek van die broers gekry het, het vir my soos ’n warm kombers gevoel wat Jehovah oor my gesit het.” Olena is op 24 Julie gedoop. Sy sê: “Ek dank Jehovah dat hy so geduldig met my was. Nou weet ek dat ‘ek vir alles sterk genoeg is deur hom wat my krag gee’.” – Filippense 4:13.

Tot en met 2 Augustus 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 43 verkondigers het gesterf

  • 97 verkondigers is beseer

  • 22 568 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 586 huise is heeltemal vernietig

  • 613 huise is erg beskadig

  • 1 632 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 5 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 10 Koninkryksale is erg beskadig

  • 37 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 53 836 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 24 867 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur broers en susters gehelp