20 DESEMBER 2022
OEKRAÏNE
JONGSTE NUUS #14 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne
Baie van die paaie, brûe en kragstasies in Oekraïne is erg beskadig of vernietig as gevolg van gereelde bomaanvalle. Maar ons broers en susters het nie opgehou om gemeentelike vergaderinge by te woon of om aan ander teokratiese aktiwiteite deel te neem ten spyte van die feit dat daar dikwels nie elektrisiteit is nie.
Anastasia en Debora, wat as pioniers in Kijif dien, sê dat hulle ten minste 12 ure per dag sonder krag is. Hulle herlaai hulle elektroniese toestelle wanneer hulle ook al kan en gebruik data om by vergaderinge in te skakel. Die internetverbinding word dikwels onderbreek wanneer die vergadering klaar is.
Verhitting is nog ’n uitdaging wat deur die kragonderbrekings veroorsaak word. Party broers kan ’n kragopwekker gebruik om elektrisiteit te voorsien en om warm te bly. Ander trek by familielede in wat verhitting in hulle huise het. Sommige verduur maar net die koue. Gelukkig bly baie broers en susters in huise of woonstelle wat deur gas verhit word, en daardie plekke bly warm ten spyte van die kragonderbrekings.
Irina, ’n pionier in Iwano-Frankifsk, kies om positief te bly. Sy het gesê: “Ek het besluit om nie te konsentreer op die dinge wat ek nie kan beheer nie. So ek vat dit een uur op ’n slag. Ek dink aan wat ek kan doen tydens ’n kragonderbreking en laai die publikasies wat ek nodig het, vroegtydig af.”
Al het ons broers en susters in Oekraïne baie uitdagings, bly hulle besig in Jehovah se diens. Ons is oortuig dat hy sal aanhou om hulle pogings te seën “om te doen wat goed is”. – Galasiërs 6:9.
Tot en met 6 Desember 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.
Hoe ons broers en susters geraak is
47 verkondigers het gesterf
97 verkondigers is beseer
11 537 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie
590 huise is heeltemal vernietig
645 huise is erg beskadig
1 722 huise is beskadig, maar nie te erg nie
7 Koninkryksale is heeltemal vernietig
19 Koninkryksale is erg beskadig
68 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie
Noodlenigingspogings
27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne
54 212 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry
26 811 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur broers en susters gehelp