Spring na inhoud

Bouvrywilligers herstel huise in gebiede waar dit veilig is

29 DESEMBER 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #15 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

JONGSTE NUUS #15 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Omtrent 3 000 huise van Jehovah se Getuies is beskadig of vernietig vandat die oorlog in Februarie 2022 in Oekraïne begin het. In Augustus, onder die toesig van die Noodlenigingsafdeling (DRD) en die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie, het die broers in Oekraïne begin om beskadigde huise te herstel waar dit veilig is. Hierdie werk sluit in om beskadigde dakke en vensters te vervang, asook ander kleiner herstelwerk. In party gevalle, wanneer ’n huis vernietig is, kan ’n garage of ’n buitegebou in ’n eenvoudige huis omskep word. Tot nou toe is 37 bouprojekte voltooi, en nog 48 is aan die gang.

Dit is ’n uitdaging om hierdie huise reg te maak gedurende sulke onstuimige tye. Maar die broers het nie teruggehou om met die noodlenigingspogings te help nie. Suster Switlana, wat 70 jaar oud is, van Welika Dimerka, Kijif-streek, vertel: “Ek het nie genoeg geld gehad om die dak en die voorkant van my huis reg te maak nie. Maar Jehovah het my verras. My broers het gekom en die werk in net drie dae klaargemaak.”

Suster Nadija van Horenka, Kijif-streek, verduidelik dat die noodlenigingswerk hulle baie in die bediening gehelp het. Sy sê: “Die herstelwerk was ’n groot getuienis vir almal. Selfs mense wat ek nie ken nie, praat oor die opregte liefde onder Jehovah se Getuies. Hulle kan nie glo dat my medegelowiges my kom help het nie.”

Selfs dié wat hulle eie huise verloor het, het kom help, soos in die geval van Jewhen en Tetiana. Die paartjie se huis was vernietig toe dit deur ’n bom getref is. Hulle fokus nie op wat hulle verloor het nie, maar hulle werk eerder hard om hulle mede-aanbidders te help. Jewhen sê: “Ons hoofdoel was nog altyd om ander by te staan. Dit help ons om ons eie probleme te hanteer.”

’n Beskadigde huis in Welika Dimerka, Kijif-streek, voor en ná dit herstel is

Net so was ’n suster met die naam Lidija gemotiveer om te help met die noodlenigingswerk nadat die broers haar huis in Hostomel, Kijif-streek, reggemaak het. Sy het gesê: “Omtrent 16 broers en susters het twee weke gewerk om my huis te herstel. Ek het gevoel asof ek al klaar in die nuwe wêreld is. Nou wil ek ander ook help.”

’n Lid van die Takkomitee in Oekraïne het onlangs die gebiede besoek waar die noodlenigingswerk aan die gang is om diegene aan te moedig wat hulle huise verloor het. Hy sê: “Die broers in Oekraïne het nog altyd uitsonderlike liefde aan mekaar bewys. Maar hierdie oorlog het ons nog nader aan mekaar gebring. Dit is wonderlik om te sien hoe die hulp aan ons liewe broers en susters hulle motiveer om nog meer in die predikingswerk te doen en ‘ook daartoe [lei] dat baie mense God kan bedank’, soos 2 Korintiërs 9:12 sê.”

Tot en met 20 Desember 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 47 verkondigers het gesterf

  • 97 verkondigers is beseer

  • 11 477 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 590 huise is heeltemal vernietig

  • 645 huise is erg beskadig

  • 1 722 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 7 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 19 Koninkryksale is erg beskadig

  • 68 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 26 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 54 212 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 26 892 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur broers en susters gehelp