11 MAART 2022
OEKRAÏNE
JONGSTE NUUS #2 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne
In gebiede waar daar hewige gevegte is, soos in Marjoepol, is daar geen elektrisiteit, verhitting, telefoon- en internetkommunikasie nie. Die vensters in baie huise is stukkend. Daar is min kos en water. Meer as 2 500 van ons broers en susters is nog in Marjoepol vasgekeer. In ’n paar stede, soos Boetsja, Tsjernihif, Hostomel, Irpin, Kijif en Soemi, is “gange” oopgemaak sodat party mense kon wegkom. Dit het gehelp dat tientalle van ons broers en susters na veiliger plekke kon vlug.
’n 36-jarige ouerman wat ’n pionier is en wat in Hostomel gewoon het, het saam met sy vrou en ouers gevlug. Hy vertel wat hy ervaar het toe die gevegte in die stad begin het:
“Helikopters het oor ons huis gevlieg. Daar was heeltyd militêre voertuie oral op die paaie. Soldate het by ons huis ingebreek terwyl ons in die kelderverdieping was. Een van hulle het ’n hele paar skote by die kelderverdieping ingeskiet. Die skote het my ma se grypsak getref, maar ons het nie seergekry nie. Ons het omtrent drie of vier uur lank glad nie beweeg of enige geluid gemaak nie terwyl daar heeltyd bo ons koppe bomme geval en skote geklap het. . . . Terwyl ons die volgende oggend weggery het, het daar ’n geveg naby ons uitgebreek. Daar was tenks op die paaie . . . Dit was baie gevaarlik, maar dit was nog gevaarliker om daar te bly.
“Al hierdie gebeure het ons lewens baie verander. Ons het geleer hoe om baie Bybelbeginsels toe te pas. Byvoorbeeld, hoe om ons nie oor die dag van môre te bekommer nie, om tevrede te wees met basiese noodsaaklikhede en om in die moeilikste situasies op Jehovah te vertrou.”
Ons weet dat ons God, Jehovah, heeltemal bewus is van al die verskriklike dinge wat met ons broers en susters in Oekraïne gebeur. Hy sal hulle nooit in die steek laat nie. – 2 Petrus 2:9.
Tot en met 10 Maart 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer:
Hoe ons broers en susters geraak is
2 verkondigers het gesterf
8 verkondigers is beseer
25 407 verkondigers het hulle huise verlaat en na veiliger gebiede in die land gevlug
25 huise is heeltemal vernietig
59 huise is erg beskadig
222 huise is beskadig, maar nie te erg nie
7 Koninkryksale is beskadig
Noodlenigingspogings
27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne
10 566 verkondigers is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry
9 635 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp