Spring na inhoud

Links: ’n Suster uit Oekraïne word verwelkom deur broers en susters in Stuttgart, Duitsland. Regs bo: Broers uit Pole lewer noodlenigingsvoorraad af in Oekraïne. Regs onder: Geboue wat deur bomme vernietig is

16 MAART 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #3 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

JONGSTE NUUS #3 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Ongelukkig is twee van ons susters dood gedurende bomaanvalle in die stad Marjoepol. Op die oomblik is daar nog meer as 2 000 van ons broers en susters wat as gevolg van die swaar gevegte nie uit die stad kan vlug nie. Die afgelope paar dae het omtrent 150 Getuies dit reggekry om uit die stad te vlug. Broers wat saam met ’n Noodlenigingskomitee (DRC) werk, het probeer om noodlenigingsvoorraad na Marjoepol te bring, maar moes omdraai toe daar op hulle en op ander voertuie wat humanitêre hulp voorsien, geskiet is. ’n Bom het in die erf geval van ’n kompleks waar daar ’n Koninkryksaal en Byeenkomssaal is. Op daardie stadium het omtrent 200 van ons broers en susters in die kelderverdieping van die Koninkryksaal geskuil. Die broers het nie seergekry nie, maar hulle voertuie is vernietig, wat dit nog moeiliker gemaak het om uit die stad te kan vlug.

’n Ouerman (foto hieronder) wat dit reggekry het om Marioepol saam met sy gesin te verlaat, het vertel: “Ons het ons woonstel, ons werk en kontak met ons vriende verloor. Ons rit, wat gewoonlik net een dag neem, het ons ses dae geneem. Terwyl ons [uit die stad] gery het, het ons langs die pad gesien hoe rook uitborrel by bomme wat nie ontplof het nie. Oral waar ons gekom het, het ons broers ons gehelp om blyplek en kos te kry. Ons voel hoeveel Jehovah ons liefhet as ons Vader . . . Dit oortuig ons dat ons ten volle op Jehovah moet vertrou.”

Links: ’n Paartjie wat dit reggekry om uit Marioepol te vlug. Regs: ’n Klein gedeelte in die kelderverdieping van hulle huis waar hulle vir agt dae geskuil het

Getuies wat uit Oekraïne gevlug het, het na verskillende Europese lande gegaan vir veiligheid. Byvoorbeeld, ’n bedieningskneg, sy vrou en hulle drie kinders van 7, 11 en 16 jaar oud, het na Portugal gegaan waar hulle familie het wat Getuies van Jehovah is. Nadat hulle 11 ure lank moes wag om oor die grens te kom, het hulle meer as 4 000 kilometer in vier dae gery om by hulle familie te kom. Hulle het daar aangekom net voordat die gemeentelike vergadering begin het. Al praat hierdie gesin nie Portugees nie, het hulle by hulle geestelike roetine gebly en by die vergadering ingeskakel. Die gemeente was beïndruk oor hoe gelukkig die gesin gelyk het ten spyte van hulle moeilike situasie.

’n Gesin wat uit Oekraïne gevlug het, poseer vir ’n foto nadat hulle ’n gemeentelike vergadering bygewoon het. Hulle het toe net meer as 4 000 kilometer in vier dae gereis

Nog ’n suster wat saam met haar familie na Duitsland gevlug het, het verduidelik: “Deur die Bybel te lees en na te dink oor die goeie dinge en die wonderlike hoop wat ons het, gee ons regtig baie krag en moed. . . . Ons het gevoel hoe Jehovah se hand ons deur ons broers en susters lei en help. Hulle het ons in Oekraïne, in Hongarye en nou hier in Duitsland verwelkom en so baie gehelp!”

Dit is duidelik dat Jehovah al ons dierbare broers en susters in Oekraïne beslis help. – Psalm 145:14.

Tot en met 16 Maart 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om met al die streke van die land te kommunikeer:

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 4 verkondigers het gesterf

  • 19 verkondigers is beseer

  • 29 789 verkondigers het hulle huise verlaat en na veiliger gebiede in die land gevlug

  • 45 huise is heeltemal vernietig

  • 84 huise is erg beskadig

  • 366 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 16 Koninkryksale is beskadig

Noodlenigingspogings

  • 27 DRC’s werk in Oekraïne

  • 20 981 verkondigers is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 11 973 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp