Spring na inhoud

Links na regs: ’n Propvol treinstasie in Lviv. ’n Broer se huis is aan die brand nadat dit deur ’n bom getref is. Moedige ouermanne soek na hulle broers en susters in Marjoepol

1 APRIL 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #5 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

JONGSTE NUUS #5 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Tot en met 29 Maart 2022 het ongelukkig nog sewe van ons broers en susters in die stad Marjoepol gesterf. Altesaam 17 broers en susters in Oekraïne het hulle lewe verloor.

Noodlenigingskomitees (DRC’s) in Oekraïne werk sonder ophou om noodleniging te voorsien, en hulle stel selfs hulle eie lewe in gevaar om na hulle broers en susters te soek in gebiede waar die oorlog baie skade veroorsaak het.

Byvoorbeeld, die broers wat saam met die DRC’s werk, het dit reggekry om kos, medisyne en ander nodige middele by stede soos Charkif, Kramatorsk en Marjoepol te kry wat erg skade gely het. Een lid van ’n DRC ry elke dag meer as 500 kilometer deur ’n hele klomp militêre kontrolepunte om kos en medisyne vir omtrent 2 700 verkondigers te neem.

Die DRC’s reël ook vervoer om ons broers en susters te help om uit die oorlogsone te vlug. Een broer van Tsjernihif se DRC het gesê: “Toe die weermag begin het om bomme op huise te gooi, was dit duidelik dat dit te gevaarlik was om in die stad te bly. Omdat die elektrisiteit en internet nie gewerk het toe die bomme gegooi is nie, het ouermanne deur die stad gejaag om vir die verkondigers wat in kelderverdiepings geskuil het te laat weet dat daar vervoer beskikbaar was om hulle te help om uit die stad te vlug.”

Die eienaar van ’n vervoerbesigheid het ingestem om sy voertuie en busse te gebruik, en hy het nege keer op en af gery om 254 van ons broers en susters uit Tsjernihif te red. Hy het eenkeer selfs groot masjiene gebruik om ’n pad reg te maak sodat sy bus kon deurry. Ons broers was dankbaar vir hierdie soort hulp.

Ons is baie hartseer saam met dié wat geliefdes verloor het in hierdie oorlog wat nog nie verby is nie. Ons sien almal uit na die tyd wanneer die hoop in God se Woord, die Bybel, ’n werklikheid gaan word en daar nie meer dood of getreur sal wees nie. – Openbaring 21:3, 4.

Omtrent 40 verkondigers van Tsjernihif word verwelkom by ’n Koninkryksaal in ’n veilige gebied

Tot en met 29 Maart 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om met al die streke van die land te kommunikeer.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 17 verkondigers het gesterf

  • 35 verkondigers is beseer

  • 36 313 verkondigers het hulle huise verlaat en na veiliger gebiede gevlug

  • 114 huise is heeltemal vernietig

  • 144 huise is erg beskadig

  • 612 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 1 Koninkryksaal is heeltemal vernietig

  • 7 Koninkryksale is erg beskadig

  • 23 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 DRC’s werk in Oekraïne

  • 34 739 verkondigers is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 16 175 van die verkondigers wat hulle huise verlaat het, het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp