Spring na inhoud

Links: Broers en susters in Oekraïne pak bokse met noodlenigingsvoorraad wat uit Pole gekom het in ’n vragwa sodat dit versprei kan word. Regs: ’n Broer se huis in Hostomel is vernietig deur ’n bom

13 APRIL 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #6 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

JONGSTE NUUS #6 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Ongelukkig het nog van ons dierbare broers en susters hulle lewe verloor as gevolg van die oorlog in Oekraïne. Altesaam 28 Getuies van Jehovah het gesterf.

Soos internasionale nuusverslae gewys het, is dorpe naby Kijif veral swaar getref gedurende die eerste paar weke van die oorlog. Van die omtrent 4 900 verkondigers wat in hierdie streek gewoon het, het meer as 3 500 nou na veiliger gebiede gevlug.

Die volgende ondervindinge wys hoe ons broers en susters in hierdie gebiede se geloof baie sterk bly al is dinge vir hulle baie moeilik.

Oleksandr, ’n ouerman van die dorp Makarif, het na ’n veiliger gebied in Sentraal-Oekraïne gevlug. Maar omdat hy bekommerd was oor vier verkondigers in sy velddiensgroep wat nie gekontak kon word nie, het hy teruggegaan na die oorlogsone om na hulle te soek. Hy het gesê: “Ek het verstaan dat Jehovah se aanbidders vir hom baie kosbaar is. . . . Toe ek by die erf van een van die verkondigers aangekom het, het ek gesien dat dit deur bomme getref is. Die deur van die huis se kelderverdieping was toe en niemand het geantwoord toe ek na hulle geroep het nie. Dit het my bang laat voel.” Oleksandr het die deur na die kelderverdieping oopgebreek om in te kom en daar het hy ’n groep mense gevind wat met groot oë na hom gestaar het. Hy het die verkondigers gevind, asook hulle bure wat nie Getuies is nie, wat saam met hulle daar geskuil het.

Jaroslaf en sy vrou (middel) en Oleksandr en sy vrou eet ’n maaltyd saam nadat hulle by ’n veilige plek aangekom het

Een van die verkondigers in die kelderverdieping, Jaroslaf, het verduidelik dat hulle al vir agt dae in die kelderverdieping wegkruip. Hy het vertel: “Ons het net ’n paar beskuitjies en ’n glas water per dag vir elkeen van ons gehad. Maar ons het die Bybel en ons publikasies gelees, gebid en mekaar aangemoedig. Toe ek hoor hoe Oleksandr my naam roep, het ek gedink dat dit die soldate is wat my kom haal het. Ek het gedink dat ek gaan sterf. . . . [In plaas daarvan] het hy ons almal gered. Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir so ’n liefdevolle geestelike familie, met mense wat vir ons bid en selfs hulle eie lewe in gevaar stel om ons te red.”

Pilip

Pilip en nog ’n broer het besluit om kos te neem na dié wat in die dorp Borodjanka gebly het. Op 17 Maart, terwyl Pilip-hulle na die dorp op pad was, het soldate sy kar en die kos gevat. Toe het die soldate die twee broers gearresteer, geboei en geblinddoek en hulle saam met sewe ander mans na ’n klein kamertjie in ’n kelderverdieping geneem. Twee dae later is hulle na ’n sel geneem waar die wagte hulle gedurende die nag aangerand het. Pilip het gesê: “Ek was seker dat ek dit nie sou oorleef nie. Ek het gebid om lojaal te kan bly.”

Een van die kere wat hy geslaan is, het Pilip hardop begin bid vir die bejaarde susters wat nie kos gehad het nie, vir die veiligheid van sy gesin en het hy vir Jehovah dankie gesê vir sy jare van gelukkige diens aan kom. Die wag het hom na sy sel teruggeneem waar hy verder gebid het om te vra dat die soldate sal besef dat die broers nie gevaarlik is nie. Albei die broers het vir die wagte begin getuig. Hulle het vir twee dae gedurende al die wagte se skofte vir hulle gepreek. Een van die gevangenes daar saam met hulle het ook belangstelling in die Bybel se boodskap gewys. Hy het die broers bedank. Op 27 Maart is die broers en die belangstellende vrygelaat.

Switlana, ’n ongetroude suster van Boetsja, kon vir twee weke lank nie uit die oorlogsone vlug nie. Sy het vertel: “Ek verstaan nou beter as ooit hoe belangrik die vrede is wat Jehovah ons gee. Die vrede van God beteken nie dat ons altyd weet wat om te doen nie. Maar wanneer ons nie ’n oplossing vir ons probleme sien nie, maak ons ten volle op Jehovah staat.”

Terwyl Switlana op pad was na ’n veiliger deel van Oekraïne, het sy vir ’n vrou en haar nefie getuig. Hulle het almal by ’n veiliger gebied aangekom en is deur ’n Getuiegesin gegroet. Die Getuiegesin het vir Switlana en vir die vrou en haar nefie huisvesting gegee vir die nag. Die volgende dag het die vrou gevra of sy ’n gemeentelike vergadering kan bywoon en gevra vir ’n Bybel en van ons publikasies. Switlana is nog steeds in kontak met haar.

Tot en met 12 April 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 28 verkondigers het gesterf

  • 48 verkondigers is beseer

  • 40 778 verkondigers het hulle huise verlaat om na veiliger gebiede te vlug

  • 278 huise is heeltemal vernietig

  • 268 huise is erg beskadig

  • 746 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 1 Koninkryksaal is heeltemal vernietig

  • 9 Koninkryksale is erg beskadig

  • 26 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 41 974 verkondigers is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 18 097 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur ons broers en susters gehelp