29 APRIL 2022
OEKRAÏNE
JONGSTE NUUS #7 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne
Meer as 210 000 woon die Gedenkmaal by
Ons is bly om te sê dat Jehovah sy volk in Oekraïne geseën het sodat ons broers en susters in alle dele van die land die Herdenking van Christus se dood kon hou. Die Gedenkmaal is in ’n hele paar Koninkryksale in westelike Oekraïne gehou vir die broers en susters wat hulle huise moes verlaat en wat daar skuil. Die broers het die Gedenkmaal meestal in klein groepies gehou en dié wat nie hulle huise kon verlaat nie, het deur middel van videoverbinding ingeskakel.
In die meeste dele van die land het lugsirenes amper die hele dag van die Gedenkmaal aan- en afgegaan. Toe dit aand word, het die alarms opgehou. Sjerhi van Droezjkifka in die Donetsk-streek verduidelik: “Ons het gebid dat daar nie bomaanvalle gedurende die Gedenkmaal sal wees nie. Net voor die Gedenkmaal het die bomaanvalle opgehou en was daar geen lugsirenes nie.”
’n Groep verkondigers in Nemisjaewe, naby Kijif, wat bejaard en verswak is, kon vir meer as ’n maand nie die vergaderinge bywoon nie. Hulle het gebid dat hulle die Gedenkmaal sal kan bywoon. Witali, ’n ouerman, het die groep gehelp om die Gedenkmaal te hou. Hy het gesê: “Daar was geen elektrisiteit nie, en daarom moes ons flitse gebruik om die Gedenkmaal te hou. Daar was geen verhitting nie. Ons het nie musiek gehad nie, daarom het my dogter die viool gespeel om ons te help om die liedjies te sing.”
Oleksandr, ’n ouerman wat in die oorlogsone woon, het vertel: “Gedurende die uitnodigingskampanje vir die Gedenkmaal kon ons nie briewe skryf aan die mense in ons gemeente se gebied nie omdat hulle huise deur bomme getref was en leeg gestaan het. Daarom het ons mense genooi wat ons geken het, mense wat ons in kelderverdiepings ontmoet het en mense saam met wie ons ontruim is. Baie van die mense wat ons ontmoet het, het nog nooit voorheen na die Getuies geluister nie. Baie van hulle het die Gedenkmaal saam met ons bygewoon.”
Al is daar nog nie ’n volledige verslag van al die gemeentes in Oekraïne beskikbaar nie, weet ons dat meer as 210 000 mense die Gedenkmaal bygewoon het.
Een van ons broers in Oekraïne het sy gevoelens oor die Gedenkmaal so uitgespreek: “Net soos ’n vuurtoring matrose verseker dat hulle naby die kus is, verseker die Gedenkmaal my dat Jehovah se dag baie naby is. Hierdie jaar se Gedenkmaal het my net meer daarvan oortuig.”
Tot en met 21 April 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.
Hoe ons broers en susters geraak is
35 verkondigers het gesterf
60 verkondigers is beseer
43 792 verkondigers het hulle huise verlaat en na veiliger gebiede gevlug
374 huise is heeltemal vernietig
347 huise is erg beskadig
874 huise is beskadig, maar nie te erg nie
1 Koninkryksaal is heeltemal vernietig
10 Koninkryksale is erg beskadig
27 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie
Noodlenigingspogings
27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne
44 971 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry
19 961 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp