Spring na inhoud

Broers en susters laai bokse met noodlenigingsvoorraad af

10 JUNIE 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #9 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

JONGSTE NUUS #9 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Die takkantoor in Oekraïne, met die hulp van 27 noodlenigingskomitees (DRC’s), hou aan om te sorg vir broers en susters wat na ander dele van die land moes vlug. Vanaf die begin van die oorlog was meer as 250 ton noodlenigingsvoorraad van Pole af ingevoer, insluitende kos, klere en items vir persoonlike sorg. Meer as 80 ton kos is ook deur broers gegee wat in veiliger dele van Oekraïne bly.

’n Suster met die naam Walentina van Kijif het die volgende gesê oor die hulp wat sy ontvang het van die broers wat op die DRC dien: “Toe die oorlog begin het, het dit baie gevaarlik geword om in die stad te bly. Daarom het ek na ’n klein dorpie in die Tsjerkasi-streek gevlug. Ek is nou al meer as twee maande hier. Die broers en susters in die plaaslike gemeente het gewys dat hulle baie vir my omgee. Hulle het vir my ’n paar bokse gegee met kos en items vir persoonlike sorg. Nadat ek al hierdie hulp ontvang het, het dit my baie diep geraak. In een van die bokse was daar ook ’n tekening wat deur ’n vier-jarige kind met die naam Blanca geteken is en ’n watergeverfde poskaart . . . Ek sal die tekeninge hou sodat ek nooit hierdie liefdevolle geskenk vergeet nie. Ek wil graag vir al my broers, maar veral vir Jehovah, baie dankie sê.”

Kinders help met die noodlenigingswerk deur prentjies te teken wat in die noodlenigingsvoorraad-bokse gesit word

’n Gestremde suster wat 83 jaar oud is van Siewerodonetsk, ook met die naam Walentina, het geskryf: “Toe die oorlog begin het, het ek alleen gewoon. My enigste seun het voor die oorlog gesterf. Ek was baie bang omdat daar die heeldag bomaanvalle in die stad was. Daar was geen water, elektrisiteit of gas nie, en die internet was swak. Ek is dankbaar teenoor die broers wat hulle lewens in gevaar gestel het om my te help.”

Sy sê verder: “Later het die broers my en twee ander gestremde susters na Dnipro gevat, waar dit veiliger is. Die broers in Dnipro het my gehelp om blyplek te vind. Nou woon ek by ’n Getuie-gesin wat na my omsien. Ons is soos familie. Hulle het my selfs gehelp om ’n slimfoon te kry sodat ek die vergaderinge kan bywoon en daaraan kan deelneem. Ek sal nooit die broers se liefde vergeet nie.”

Ons harte loop oor van vreugde en dankbaarheid teenoor ons liefdevolle Vader, Jehovah, wat aanhou om vir ons geliefde broers en susters in Oekraïne te sorg sodat hulle “niks goeds [sal] kortkom nie”. – Psalm 34:10.

Tot en met 7 Junie 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 42 verkondigers het gesterf

  • 82 verkondigers is beseer

  • 46 145 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 469 huise is heeltemal vernietig

  • 540 huise is erg beskadig

  • 1 405 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 5 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 8 Koninkryksale is erg beskadig

  • 33 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 DRC’s werk in Oekraïne

  • 50 663 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 22 995 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur hulle broers en susters gehelp