Spring na inhoud

Regs: Party van die broers wat gereeld na oorloggeteisterde gebiede in Oekraïne reis om die broodnodige noodlenigingsvoorraad af te lewer en om diegene wat wil vlug, te red. Links bo: Die broers het ’n Getuie-gesin gered wat net-net ontsnap het nadat hierdie huis deur ’n ontploffing vernietig is

27 APRIL 2022
OEKRAÏNE

Moedige broers lewer noodlenigingsvoorraad af, red ander in oorlogsgebied in Oekraïne

Moedige broers lewer noodlenigingsvoorraad af, red ander in oorlogsgebied in Oekraïne

Op 24 Februarie 2022 het oorlog in Oekraïne uitgebreek. Duisende Getuies van Jehovah is nog steeds in gebiede van die land waar daar baie geveg word. ’n Groep van 21 broers van die Oekraïense stede Krementsjoek en Poltawa wys ware liefde vir hulle broers en susters. Hulle is bereid om diep in die oorlogsgebied te gaan om hulle mede-aanbidders te red en om noodlenigingsvoorraad te versprei.

Die broers het in ses weke omtrent 80 keer gereis. So hulle het sowat 50 000 kilometer gereis na gebiede wat swaar getref is, soos Charkif, en byna 400 broers en susters gered.

’n Groep verkondigers en kinders wat uit Charkif gered is

Tot nou toe het hulle 23 ton kos, sowel as medisyne, brandstof en ander voorraad afgelewer. Voordat die broers op ’n reis gaan, beplan hulle hulle roete mooi sodat hulle veilig kan wees en gebiede kan probeer vermy waar daar baie geveg word. Een reis kan solank as 19 uur vat omdat die broers by kontrolepunte moet stop waar hulle voertuie deursoek word.

Terwyl hulle gereis het, het oorlogsvliegtuie oor hulle gevlieg. Die broers het geboue gesien waarop bomme geval het asook tenke en karre wat vernietig is. Soms voel die broers hoe die aarde skud wanneer bomme daar naby ontplof.

Op 2 April 2022 was Roman besig om klaar te maak om voorraad vir die broers en susters in Charkif af te lewer toe missiele in die strate begin val het. Hy het in ’n gebou daar naby gaan skuiling soek. ’n Halfuur later het hy gesien dat die pad waarop hy sou gery het, deur bomme verwoes was.

Wolodimir, een van die vrywillige bestuurders, het van die gevaarlike omstandighede gesê: “Ons bid gereeld tot Jehovah vir die wysheid om goeie besluite te maak.”

Oleksandr en sy vrou, Walentina, het saam met sy bejaarde ouers in Charkif gebly. Gedurende die gevegte kon hulle die ontploffings so naby as 100 meter van hulle venster af sien. Die gesin het nie ’n kar gehad nie, so hulle kon nie wegkom nie.

Toe het die broers gekom om hulle te red. Oleksandr het gesê: “Ons het tot Jehovah gebid en vir hom dankie gesê vir die broers wat ons kom help het.”

Wasil, sy vrou, Natalia, en hulle drie kinders het vir ’n hele paar dae in die ondergrondse verdieping van hulle huis weggekruip. Op 28 Februarie 2022 het ’n bom naby hulle huis ontplof. Die ontploffing het hulle huis vernietig. Wasil onthou die oorverdowende geluid van die ontploffing en hoe die ligte in die ondergrondse verdieping doodgegaan het.

Wasil en Natalia saam met hulle kinders in die ondergrondse verdieping van hulle huis voordat dit vernietig was

Toe die gevegte minder geword het, het die gesin na die ondergrondse verdieping van ’n gebou daar naby gegaan. Op 3 Maart 2022 het die broers die gesin gevind en kon hulle hulle na ’n veiliger deel van die land vat.

Wasil beskryf hoe hy gevoel het toe die gesin gered was en by ’n veiliger gebied aangekom het. Hy sê: “Ons was so dankbaar teenoor Jehovah. Vir die eerste keer, ná wat soos weke gevoel het, kon ons rustig aandete eet sonder om bekommerd te wees oor die veiligheid van ons kinders.”

Oleksandr, een van die bestuurders, verduidelik dat die feit dat broers en susters gered was, bewys het dat daar eenheid onder Jehovah se volk is. Hy sê: “Dit het my gehelp om te besef hoe Jehovah vir sy volk omgee. Dit maak my baie bly om te sien hoe dankbaar my broers en susters is.”

Ons is dankbaar vir ons moedige broers, en ons bid dat Jehovah hulle selfopofferende gees sal seën. – Romeine 12:10.