Spring na inhoud

23 JUNIE 2022
OEKRAÏNE

My reis na veiligheid

’n Verhaal uit Oekraïne van oorlewing soos vertel deur Anastasia Chozjainowa

My reis na veiligheid

Die oggend van 24 Februarie 2022 het ek wakker geword as gevolg van harde geraas. Eers het ek gedink dit was donderweer omdat dit buite gereën het, maar dit wat ek gehoor het, was eintlik bomme wat geval het.

Ek het besef dat ek my huis, wat in die middel van Marioepol was, moes verlaat. Die volgende dag het ek na my ouma Irina se huis toe gegaan wat buitekant die dorp was. Later het my ma, Katerina, aangesluit by my, my ouma en my nefie. Ons was vir ’n ruk lank veilig in my ouma se huis, maar ons moes ’n hele paar dae in die kelderverdieping slaap.

Eenkeer het ’n bom in ons groentetuin geval terwyl ons in die kelderverdieping was. Die ontploffing was baie, baie hard. Ek het ernstig tot Jehovah gebid. Ná ’n week het ons geweet dat dit nie meer veilig is om in my ouma se huis te bly nie, en daarom het ons besluit om terug te gaan na die middestad om ’n manier te kry om te vlug. Ek het Jehovah gesmeek om ons veilig te hou en om ons te help om die stad te verlaat.

Dit was die oggend van 4 Maart. Daar was geen treine beskikbaar in Marioepol nie omdat hulle besig was om die stad aan te val. So ons het die volgende tien dae saam met honderde ander mense in die stad se teater gebly. Dit was so vol dat ons op die vloer moes slaap. Dit was baie vuil, en dit was baie moeilik om kos en warm water te kry. Ons moes ure lank in rye staan.

Eendag het ’n bom naby die teater ontplof. Die ontploffing was so kragtig dat dit baie van die teater se vensters gebreek het, en die koue lug van buite af het in die teater ingekom.

Anastasia saam met haar ouma Irina en haar nefie Andri

Wat het my gedurende hierdie moeilike tyd gehelp? Die verslag oor Job. Toe ek sien dat mense paniekerig raak oor die ontploffings, het ek die verslag oor Job in my Bybel gelees. Dit het my beter laat voel. Dit was asof ek saam met Job in daardie teater gesit het en vir hom gesê het: “Nou verstaan ek hoe jy gevoel het!” Job het alles verloor: sy gesin, sy gesondheid en sy besittings. Ek het net materiële dinge verloor. My familie was nog saam met my, ons almal lewe nog en is gesond. Op daardie oomblik het ek besef dat dinge nie so sleg was nie. Ek het toe beter gevoel.

Op 14 Maart het ons gehoor dat ’n groep mense suksesvol uit die stad gevlug het. So ons het ook besluit om te gaan. Ons kon vervoer saam met ander mense van die teater kry.

’n Groep van 20 voertuie het die stad verlaat. Ons was 14 mense wat saamgedruk was agter in ’n trok. Terwyl ons gery het, het bomme om ons geval. Ek het die hele tyd gebid. Nadat ons Marioepol veilig verlaat het, het die bestuurder gestop, uitgeklim en begin huil. Hy het al die landmyne gemis wat op die pad was. Ons het gehoor dat twee dae nadat ons gevlug het, ’n bom die teater getref het en omtrent 300 mense gesterf het.

Ná 13 ure het ons in Zaporizjia aangekom. Die volgende oggend het ons ’n trein na Lviv geneem. Daar was 16 mense in ’n treinkompartement wat gewoonlik net vier mense gevat het. Dit was baie warm. Ek het meeste van die tyd in die gang gestaan. Dit was die enigste plek waar jy vars lug kon kry. Op 16 Maart het ons in Lviv aangekom, waar ons hartlik deur ons dierbare broers en susters gegroet is. Ons het die volgende vier dae in ’n Koninkryksaal gebly. Die manier hoe die broers en susters vir ons gesorg het, het my laat huil. Dit was ’n geskenk van Jehovah af.

Op 19 Maart het ons besluit om Oekraïne te verlaat en na Pole te gaan, waar ek, my ouma, my ma en my nefie deur mede-Getuies ontmoet is. Hulle het vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het. Ons was omring deur liefde.

Ek is net 19 jaar oud, maar nadat ek deur al hierdie moeilike tye gegaan het, het ek besef hoe belangrik dit is om sterk geloof op te bou terwyl dinge goed gaan. Geloof help jou om te oorleef. As ek nie persoonlike studie voor die oorlog gedoen het nie, sou dinge baie moeiliker gewees het.

Jehovah is ’n liefdevolle Vader. Die heeltyd het ek gevoel asof hy my regterhand gevat het en my die hele pad gelei het. Ek sal nooit Jehovah ten volle kan dank vir alles wat hy vir my gedoen het nie. – Jesaja 41:10.