Spring na inhoud

13 FEBRUARIE 2015
OEKRAÏNE

Godsdiensgeboue in beslag geneem in oostelike streke van die Oekraïne

Godsdiensgeboue in beslag geneem in oostelike streke van die Oekraïne

Gewapende groepe het ’n paar Koninkryksale (huise van aanbidding) wat aan Jehovah se Getuies in die Oekraïne behoort, met geweld in beslag geneem. Hierdie geboue is in die Donetsk- en Loehansk-streke in die ooste van die land, waar ’n gewelddadige konflik al maande lank woed. Hierdie gewapende mans het Jehovah se Getuies aangeval weens vooroordeel en minagting vir die Getuies se reg op godsdiensvryheid en vryheid van assosiasie.

Jehovah se Getuies in die Oekraïne het meer as 20 jaar lank godsdiensvryheid geniet. Wasil Kobel, een van Jehovah se Getuies by hulle takkantoor in Lviv, het gesê: “Ons het gereeld in ons huise van aanbidding bymekaargekom vir Bybellees en gebed, en ons het nog altyd ons bes gedoen om ’n positiewe invloed te hê op die gemeenskap waarin ons woon. Maar in onlangse maande is die lewe van die Oekraïense volk ontwrig deur die onrus in die ooste van die land. Jehovah se Getuies is geen uitsondering nie; ons is ook slagoffers van die geweld.”

Mnr. Kobel het namens die 150 000 Getuies van Jehovah wat in die Oekraïne woon, gepraat. Duisende Getuies het in onlangse maande uit die oorlogsone gevlug. Maar die ongeveer 17 500 Getuies wat in die Donetsk- en Loehansk-streke agtergebly het, probeer hulle daaglikse lewe te midde van ’n gewelddadige konflik voortsit. Omdat hulle Koninkryksale in beslag geneem is, het duisende Getuies geen gebou waar hulle vir aanbidding kan vergader nie en moet hulle in beknopte plekke in privaat huise bymekaarkom. Ander Getuies moet nou tot twee uur reis om by godsdiensvergaderinge uit te kom en weer twee uur om terug te keer huis toe.

Inbeslagneming van Koninkryksale word veroorsaak deur godsdienshaat

Die inbeslagneming van Koninkryksale is nie willekeurige dade nie, maar diskriminerende aanvalle teen die Getuies en hulle godsdiensoortuigings. Die bevelvoerder van een groep mans het gesê dat dit sy doel is om “ontslae te raak van alle Getuies van Jehovah” omdat die Ortodokse Kerk volgens hom die enigste godsdiens is wat in die streek toegelaat moet word. Nog ’n bevelvoerder het gesê: “Jehovah se Getuies is geskiedenis.” Ten spyte van hierdie dreigemente is Jehovah se Getuies vasbeslote om regoor die Oekraïne bedrywig te bly.

Hoewel geen van die Getuies as gevolg van hierdie inbeslagnemings beseer is nie, word hulle veiligheid en vryheid om met medegelowiges te assosieer, bedreig. In een geval het gewapende mans in ’n Koninkryksaal in die dorp Horlifka in die Donetsk-streek ingestorm gedurende ’n godsdiensvergadering, wat die gehoor, insluitende bejaarde mans en vroue asook kinders, die skrik op die lyf gejaag het. By ’n ander geleentheid was Getuies wat by hulle Koninkryksaal aangekom het om ’n godsdiensvergadering by te woon, geskok toe hulle sien dat die slotte vervang is en die gebou as ’n militêre barak gebruik word.

Wat word omtrent die probleem gedoen?

Mnr. Kobel het gesê: “Die takkantoor in Lviv het met verskeie staatsdepartemente en ander amptenare in verbinding getree om hulle in kennis te stel van hierdie onwettige inbeslagnemings van eiendom. Hiermee is die regering ingelig dat wat in hierdie geboue gebeur en wat die onwettige inwoners van hierdie geboue doen, buite ons beheer is.” Wat meer is, die takkantoor het vir die verantwoordelike mans in die gemeentes van Jehovah se Getuies in die Donetsk- en Loehansk-streke gesê om alles in hulle vermoë te doen om te verseker dat elke Getuie veilig is. Hierdie mans is daaraan herinner dat lewens belangriker is as geboue en dat niks gedoen moet word wat die veiligheid van enige Getuie op die spel sal plaas nie.

Weens die onrus kan die Getuies tans geen regstappe neem om hulle Koninkryksale terug te kry nie. Maar ten spyte van die beproewinge wat die inbeslagneming van hulle Koninkryksale meegebring het, is die Getuies vasbeslote om met hulle godsdiensbedrywighede vol te hou. Hulle sien uit na die tyd wanneer hulle hulle geboue sal terugkry en weer eens met medegelowiges in die veiligheid en gerief van hulle Koninkryksale kan vergader.