Spring na inhoud

Broer David Splane, ’n lid van die Bestuursliggaam, en sy vrou word vriendelik verwelkom toe hulle by die Lviv Danylo Halytskyi-internasionale lughawe aankom.

9 NOVEMBER 2018
OEKRAÏNE

Jehovah se Getuies toon gasvryheid en eenheid gedurende spesiale streekbyeenkoms in Oekraïne

Jehovah se Getuies toon gasvryheid en eenheid gedurende spesiale streekbyeenkoms in Oekraïne

Jehovah se Getuies in Oekraïne het duisende van hulle broers en susters verwelkom vir die spesiale streekbyeenkoms wat op 6-8 Julie 2018 in Lviv, Oekraïne, gehou is. Meer as 3 300 gaste uit nege lande het na Oekraïne gereis om te luister na die geestelike program met die tema “Wees moedig”! Hulle het ook die gasvryheid geniet van die broers in Oekraïne.

Die voorbereidings vir die byeenkoms het in April 2017 begin, en in die 15 maande daarna het baie van die plaaslike Getuies gehelp met die reëlings vir die bedrywighede vir die byeenkoms en om na die besoekers om te sien. Die besoekers het unieke dinge van die Oekraïense kultuur ondervind, insluitende dans- en musiekopvoerings en tradisionele kos. Toere is gereël na ’n plaaslike museum, ou kastele en na ’n deel van die pragtige Karpatiese berge. Die besoekers het dit ook baie geniet om saam met plaaslike Oekraïense Getuies in die velddiens te werk.

Die byeenkomsprogram is in ’n groot stadion in Lviv gehou, met ’n hoogtepunt van meer as 25 000 mense wat dit bygewoon het. Party toesprake is na 15 ander stadions uitgesaai en na heelwat Koninkryksale regoor die land. Altesaam het meer as 125 000 mense dit bygewoon en 1 420 is gedoop.

Ivan Riher, ’n verteenwoordiger van die takkantoor in Oekraïne, het gesê: “Ons het baie uitgesien na hierdie spesiale byeenkoms en die kans om ons broers en susters van ander lande te verwelkom. Ons het dit geniet om Oekraïense gasvryheid te betoon aan ons besoekers en ons het gesien dat die eenheid en moed van ons wêreldwye familie van geestelike broers en susters versterk is.” — Psalms 133:1.

 

Die bywoningshoogtepunt by die stadion in Lviv was 25 489.

Een van die oudste doopkandidate onder die 1 420 mense wat gedoop is.

Een van die baie jongmense wat by die byeenkoms gedoop is.

Plaaslike verkondigers het saam met die besoekers velddiens gedoen. Hulle het mense in die stad genooi om die byeenkoms by te woon.

Die takkantoor het die Lviv-operahuis gehuur, wat die grootste verhoog in die stad het. Besoekers het die opvoerings geniet wat tradisionele Oekraïense danse en sang ingesluit het. Die program is afgesluit deur “Jehovah is u naam” te sing.

Plaaslike Getuies voer ’n Romani-volksdans op by die Svirzj-kasteel.

Teen die einde van die program het plaaslike verkondigers tekens opgehou om te sê dat hulle lief is vir hulle broers en susters wat besoek het.