Spring na inhoud

4 OKTOBER 2012
OEKRAÏNE

Geregtigheid seëvier in die Oekraïne

Geregtigheid seëvier in die Oekraïne

Op 26 September 2012 het die Oekraïense Hooggeregshof ’n onwettige poging verydel om beslag te lê op ’n groot deel van die eiendom waarop die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Oekraïne geleë is.

Die Getuies het die eiendom in 1998 wettig gekoop. Maar in 2008 het die vorige eienaar die eiendom ’n tweede keer verkoop, aan die Sentrum vir Sportontwikkeling LLC (SSO). Hierdie vorm van grondroof is ’n algemene verskynsel in die Oekraïne.

Die plaaslike regbank van koophandel het beslis dat die verkoopkontrak met die SSO wettig was, en die Getuies se appèlaansoeke is afgewys.

Maar geregtigheid het geseëvier. In Desember 2011 het die hoër regbank ’n uitspraak ten gunste van die Getuies gelewer en in April 2012 die SSO se appèl van die hand gewys. Dit het bevestig dat die eiendom wettig aan Jehovah se Getuies behoort. Drie maande later het die Appèlhof van Koophandel in Lviv die plaaslike hof se onwettige beslissing, wat die SSO as die eienaar van die eiendom erken het, opgehef.

In ’n laaste poging om eienaarskap te eis, het die SSO by die Hooggeregshof van die Oekraïne teen die beslissing van April geappelleer. Maar op 26 September het die hof die appèl summier afgewys, en daarmee was die saak afgehandel.

As die grondroof suksesvol was, sou Jehovah se Getuies hulle administratiewe gebou en ’n groot deel van hulle eiendom verloor het, en dit sou die bedrywighede by hulle nasionale hoofkwartier in die Oekraïne belemmer het.