Spring na inhoud

28 JULIE 2014
OEKRAÏNE

Die polisie se gebrek aan optrede laat oortreders ongestraf bly en lei tot verdere geweld in die Oekraïne

Die polisie se gebrek aan optrede laat oortreders ongestraf bly en lei tot verdere geweld in die Oekraïne

“Wanneer iemand nie vir ’n misdaad gestraf word nie, dink mense dat dit veilig is om verkeerde dinge te doen.” Hierdie gesegde word waar bewys in die Oekraïne, waar al hoe meer haatmisdade teen Jehovah se Getuies gepleeg word. Jehovah se Getuies is dankbaar dat die regering van die Oekraïne godsdiensvryheid waarborg, maar hulle is bekommerd omdat haatmisdade teen hulle toeneem en die owerheid nie die oortreders straf nie.

Toenemende aanvalle

Sedert 2008 was daar 64 gevalle waarby lede van Jehovah se Getuies in die Oekraïne aangerand is terwyl hulle aan godsdiensbedrywighede deelgeneem het of kort tevore daarmee opgehou het. Sestien van hierdie aanrandings is deur Ortodokse priesters gepleeg.

Tussen 2008 en 2013 was daar ook 190 gevalle van vandalisme op Koninkryksale en het die oortreders 13 keer probeer om die geboue af te brand. Gedurende 2012 en 2013 was daar twee keer soveel gevalle van vandalisme op Koninkryksale as in die vorige vier jaar.

Die aanvalle word ook gewelddadiger. In 2012 is twee Koninkryksale in die Donetsk-streek heeltemal afgebrand. In 2013 is twee Getuies so wreed aangerand dat hulle lank in die hospitaal moes bly.

Die Getuies het die owerheid gevra om hulle te beskerm, maar dit het nie gehelp nie, aangesien die owerheid traag is om ondersoek in te stel, dit ondoeltreffend doen of nie die gepaste straf aan oortreders toedien nie.

Die owerheid tree nie op nie

Die Koninkryksaal in Horlivka, Donetsk-streek, is op 5 Junie 2014 aan die brand gesteek en deur vandale beskadig

Vandalisme. Die polisie is traag om op te tree wanneer ’n voorval gerapporteer word of tree glad nie op nie. As ’n kriminele aanklag ingedien word, weier die owerheid dikwels om aksie teen die oortreder in te stel of talm hulle om dit te doen. Selfs wanneer regsaksie wel geneem word, bring die aanklaers geen aanklag teen die oortreders nie of straf die howe hulle net liggies. Tussen 2008 en 2012 het die owerheid, in die 111 gevalle van vandalisme, geen kriminele aanklagte teen die oortreders ingebring nie.

Fisiese aanvalle. Die polisie stel dikwels nie deeglik ondersoek na die aanvalle in nie of doen nie moeite om die oortreders te identifiseer nie. Wanneer aksie teen oortreders ingestel word, word hulle selde aangekla of gestraf. Wanneer die howe oortreders wel straf, stem die straf nie met die misdaad ooreen nie omdat die aanvalle nie as haatmisdade geklassifiseer word nie.

Die feit dat oortreders ongestraf bly, moedig hulle aan om aan te hou om geweld te pleeg

Die aanranding van Oleksandr Tretiak

Oleksandr Tretiak

’n Baie gewelddadige aanval het plaasgevind op 26 November 2013, toe Oleksandr Tretiak, ’n 41-jarige Getuie, op pad huis toe was nadat hy aan godsdiensbedrywighede deelgeneem het. Drie mans het mnr. Tretiak 20 minute lank wreed geslaan. Hy het die aanvallers geïdentifiseer as Roeslan Iwanof; Anatolii Dowhan, ’n afgetrede luitenant-kolonel in die polisie; en Ewhenii Ihlinskii, Dowhan se skoonseun en ’n verkeersbeampte. Mnr. Tretiak het dit reggekry om te ontsnap en is inderhaas na die hospitaal geneem met ernstige beserings, insluitende etlike snye en kneusplekke, skade aan sy skedel en brein en ’n gebreekte neus.

Ondanks sy toestand het die speurder die misdaad beskryf as ’n “geringe” liggaamlike besering wat deur drie “onbekende” persone gepleeg is. Mnr. Tretiak was twee weke in die hospitaal, maar is te vroeg ontslaan—die owerheid sou die aanval as meer as ’n “geringe” misdaad moes klassifiseer as hy langer in die hospitaal gebly het. Sy ernstige beserings het vereis dat hy die volgende dag weer opgeneem word. Hy was altesaam 23 dae lank in die hospitaal.

Aanklagtes is onlangs gebring teen Roeslan Iwanof, een van dié wat hom aangeval het, maar slegs nadat hy gevlug het. Mnr. Tretiak is bang dat die oortreders hom weer sal aanval. Hy sê: “Ek is daarvan oortuig dat die aanvallers deur godsdienshaat vir Jehovah se Getuies beweeg is en my wou doodmaak.”

Sal die owerheid reageer?

In die Oekraïne geniet meer as 150 000 van Jehovah se Getuies al jare lank godsdiensvryheid, en wanneer daar in die verlede probleme was, was die owerheid behulpsaam. Die Getuies hoop dat die polisie in die Oekraïne misdade deeglik sal ondersoek en die oortreders sal vervolg sodat hulle nie ongestraf bly nie.