Spring na inhoud

10 JULIE 2015
OEKRAÏNE

Aangeval weens godsdiensoortuigings in Oos-Oekraïne

Aangeval weens godsdiensoortuigings in Oos-Oekraïne

Sedert Augustus 2014 het gewapende groepe in Oos-Oekraïne, aangedryf deur godsdienshaat, 26 Getuies van Jehovah ontvoer en mishandel. Baie Getuies woon in die streek, en hulle is welbekend vir hulle openbare bediening en politieke neutraliteit. Party lede van gewapende groepe het die onlangse gebrek aan wet en orde in die streek uitgebuit deur die Getuies die teiken van wrede mishandeling te maak. *

Gevalle van geweld

  • Op 21 Mei 2015 het polisiebeamptes in die dorp Stakhanof twee Getuiemans, wat albei oor die ouderdom van 60 is, weens hulle godsdiensbedrywigheid aangehou. Hulle is daarvan aangekla dat hulle “die vrede versteur” en is ’n vonnis van 15 dae opgelê. Terwyl die twee Getuies deur die polisie aangehou is, is hulle daarvan aangekla dat hulle spioene is en herhaaldelik ondervra oor die organisasie van Jehovah se Getuies. Gemeentelede het die plaaslike aanklaer gesmeek om die mans vry te laat, maar hy het geweier om hulle versoek toe te staan. Familielede en mede-Getuies is aanvanklik nie toegelaat om die twee mans te sien nie, maar het later toestemming gekry om drie keer per week kos, klere en medisyne te voorsien. Een van die Getuies is op 2 Junie 2015 vrygelaat, en die ander een die volgende dag—met ’n bevel om die streek te verlaat.

  • Op 17 Mei 2015 het gewapende mans in die Nowoazofsk-streek vier Getuies van Jehovah voorgekeer, hulle geblinddoek en hulle met vuurwapens gedwing om saam met hulle na die plaaslike militêre hoofkwartier te gaan. Hulle het die Getuies twee uur lank wreed geslaan en gemaak asof hulle hulle teregstel. Hulle het daarop aangedring dat die jongste Getuie by hulle leër aansluit en dat al die Getuies die Ortodokse geloof as die enigste ware godsdiens erken. Die Getuies is vrygelaat nadat hulle ’n nag in ’n beknopte, tydelike tronk deurgebring het.

  • Beserings van twee van die Getuiemans wat in die Nowoazofsk-streek ontvoer en geslaan is

  • Op 22 Januarie 2015 het drie gewapende mans ’n Getuie by sy werk in Donetsk ontvoer. Sy gesin kon nie uitvind waarheen hy geneem is of waarom hy ontvoer is nie. Terwyl hy aangehou is, het hy herhaaldelik sy polities neutrale standpunt verduidelik, en hy is ná nege dae vrygelaat.

  • Op 9 Augustus 2014 het ’n gewapende lid van ’n plaaslike rebellemag twee Getuies ontvoer in Stakhanof, in die Loehansk-streek. Hulle is ses dae lank gevange gehou en herhaaldelik geslaan. Die rebelle het ook gemaak asof hulle hulle vermink en teregstel. Die Getuies het nie genoeg kos, water, klere en mediese sorg gekry nie. Hulle ontvoerders het hulle probeer dwing om hulle geloof prys te gee, om Ortodokse geloofsbelydenisse op te sê en beelde te vereer, wat duidelik toon dat godsdiens die rede vir die mishandeling was. Ten spyte van hierdie wrede mishandeling het die Getuies geweier om in te gee.

Jehovah se Getuies lewe volgens hulle godsdiensoortuigings en weier om te veg, om aan veldtogte deel te neem of om finansiële ondersteuning te gee aan enige kant van die militêre konflik in Oekraïne. Gewapende groepe het die Getuies aangeval weens hulle neutrale standpunt en omdat hulle nie aan Ortodokse leringe glo nie. Die aanvalle is ’n wrede poging om hulle te dwing om hulle geloof prys te gee.

Volharding ondanks vervolging

Aangesien daar nog konflik is oor beheer van hierdie streek, is daar geen regsliggame tot wie die Getuies hulle tans om hulp kan wend nie. Hulle het hierdie en soortgelyke voorvalle aan die internasionale gemeenskap gerapporteer, insluitende die VN se Spesiale Referent oor Marteling.

Ten spyte van die beproewinge wat Jehovah se Getuies in Oos-Oekraïne moet verduur, is hulle vasbeslote om neutraal te bly, en hulle gaan voort om gesonde verstand aan die dag te lê sodat hulle kan aanhou om te aanbid. Hulle hoop dat plaaslike owerhede die basiese mensereg op godsdiensvryheid sal handhaaf.

^ par. 2 Gewapende mans het Joerii, wat heel bo gesien kan word, aangeval omdat hy een van Jehovah se Getuies is. By een geleentheid het hulle hom op straat voorgekeer toe hy van ’n godsdiensvergadering teruggekeer het, en by twee ander geleenthede het hulle hom by sy huis aangeval. Hulle het daarop aangedring dat hy sy godsdiensoortuigings prysgee en sy bedrywighede as een van Jehovah se Getuies staak.