Spring na inhoud

Op Vrydag 4 Augustus 2017 het spesiale anti-terrorisme eenhede saam met soldate en die polisie godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies in Altsjefsk en Loehansk onderbreek. Hulle het gesê dat daar ’n bomdreigement is.

13 DESEMBER 2017
OEKRAÏNE

Godsdiensvryheid word bedreig in oostelike streke van Oekraïne

Godsdiensvryheid word bedreig in oostelike streke van Oekraïne

As gevolg van gevegte wat nou al vier jaar aan die gang is in party gebiede van Loehansk en Donetsk in die oostelike deel van Oekraïne, het lewensomstandighede agteruitgegaan en kry die meeste mense wat daar bly, swaar. Omdat daar al hoe meer godsdiensonverdraagsaamheid is, maak dit dinge net erger vir Jehovah se Getuies wat in hierdie gebiede woon. Dit wil voorkom asof die plaaslike owerheid beïnvloed is deur die onlangse hofbeslissing in Rusland. Volgens hierdie beslissing is Jehovah se Getuies se godsdiensbedrywighede verbied. Die plaaslike owerheid volg nou Rusland se voorbeeld deur onwettige metodes te gebruik om die Getuies in hulle land van misdaad te beskuldig en hulle godsdiensvryheid te bedreig.

Bewyse word vervals

Die owerheid in hierdie streke maak gebruik van dieselfde metodes wat Rusland se aanklaers gebruik het. Hulle vervals bewyse sodat hulle Jehovah se Getuies van ’n misdaad kan beskuldig.

  • In Julie 2017 het die Hooggeregshof van Donetsk se Volksrepubliek twee artikels uit ou uitgawes van die Getuies se godsdienstydskrifte op die Republiek se Lys van Ekstremistiese Materiaal gesit. Die Getuies is nie van die hofsaak in kennis gestel nie. Die beslissing was ook dadelik van toepassing, maar hulle kon nie ’n afskrif daarvan kry nie. Dit het dit vir hulle onmoontlik gemaak om die saak te appelleer.

  • In Augustus 2017 het die aanklaer se kantoor in Nowoazofsk en Debaltsewo briewe aan die plaaslike Getuies gegee om hulle te waarsku. Hierdie briewe het gesê dat hulle eers ’n permit moet kry voordat hulle hulle godsdienstydskrifte, Die Wagtoring en die Ontwaak!, kan versprei. Op hierdie manier keer die owerheid dat die Getuies enige godsdienslektuur versprei, al is dit nie op die Lys van Ekstremistiese Materiaal nie. Hulle dreig ook om die gemeentelike ouer manne verantwoordelik te hou as enige lektuur van die Getuies versprei word. ’n Soortgelyke waarskuwing is aan die Getuies in die stad Makejefka gegee.

  • Op 4 Augustus 2017 het spesiale anti-terrorisme eenhede, saam met soldate en die polisie, godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies in Altsjefsk en Loehansk onderbreek. Hulle het gesê dat daar ’n bomdreigement is. Nadat die aanbidders gevra is om die gebou te verlaat, het die amptenare almal se dokumente nagegaan. *

Plekke van aanbidding in Altsjefsk word deursoek

In Altsjefsk het die amptenare ’n video-opname gemaak van hoe hulle die gebou deursoek. Volgens hulle was hulle opsoek na ’n bom. Maar hulle het eerder ’n paar van die Getuies se godsdienspublikasies gevind en toe “kry” die amptenare pamflette wat propaganda teen die LPR * bevat. Die amptenare het dit ingesmokkel en dit in die gebou weggesteek.

Ongegronde beskuldigings word gebruik om godsdiensbedrywighede te beperk

’n Paar weke nadat Koninkryksale deursoek is, het die owerheid in Loehansk sonder enige bewyse gemaak asof Jehovah se Getuies vyande van die staat is. Op 28 Augustus 2017 het die adjunkminister van staatsveiligheid van die LPR, Oleksandr Basof, ’n amptelike verklaring gemaak dat Jehovah se Getuies slegte mense is. Hy het verwys na die pamflette met die propaganda wat in die Koninkryksaal in Altsjefsk ‘gekry’ is, maar wat eintlik deur die amptenare daar weggesteek is. Hy het hierdie pamflette as bewys gebruik vir sy aantyging dat die Getuies groepe ondersteun wat as terroriste in Loehansk beskou word.

Die woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Oekraïne, Iwan Riher, het gesê: “Enige soort materiaal wat adjunkminister Basof sê in die Koninkryksaal “gekry” is, is beslis deur dieselfde groep wat dit gekry het, daar weggesteek. Dit is moontlik dat hierdie soort literatuur in Altsjefsk versprei is, maar dit is beslis nie deur Jehovah se Getuies versprei nie. Hulle is neutraal, en dit word bewys deur die feit dat honderde Getuies regoor die wêreld op die oomblik in die tronk is omdat hulle weier om militêre diens te doen as gevolg van gewetensbeswaar. Nie een van Jehovah se Getuies het kant gekies of betrokke geraak by hierdie geveg in Oekraïne nie.” *

Al hoe meer druk op Jehovah se Getuies

’n Hele paar Getuies in die streek sê dat die owerheid hulle verhoed het om ander van hulle geloof te vertel. Hulle is ook gewaarsku om nie aan te hou met hierdie werk nie, al is niemand deur die polisie aangekla nie. Baie van die Getuies het ook gesê dat die Veiligheidsdiens hulle ingeroep het. Gedurende hierdie vergaderinge is die Getuies ondervra, geïntimideer en onder druk gesit om die name te gee van diegene wat hulle godsdiensbedrywighede organiseer. Die plaaslike owerheid het hulle godsdiensvergaderinge onderbreek en hulle plekke van aanbidding deursoek.

Die toename in godsdiensdiskriminasie en druk op Jehovah se Getuies in party gebiede van Loehansk en Donetsk is meer as net teistering, dit is godsdiensvervolging en ’n bedreiging van godsdiensvryheid. Jehovah se Getuies is al hoe meer versigtig en soek na maniere om wettiglik met hulle vreedsame godsdiensbedrywighede aan te gaan.

^ par. 7 In Altsjefsk is twee ouer manne heeldag lank ondervra. Hulle het verduidelik dat die Getuies ondanks die konflik voortgegaan het om hulle godsdiensvergaderinge te hou sonder dat enigiemand hulle pla al is hulle Koninkryksaal naby die kommandant se kantoor. Maar een ouer man is met ongeveer R1 000 ($83, U.S.) beboet omdat hy in oorlogstyd ’n massavergadering gereël het. Hy was ook met ongeveer R600 ($48, U.S.) beboet omdat hy nie brandweerregulasies in die Koninkryksaal nagekom het nie.

^ par. 8 Die LPR, of Loehansk se Volksrepubliek, is in beheer van party gebiede in die streek Loehansk.

^ par. 11 In die somer van 2014 het die president van Oekraïne beveel dat ’n gedeelte van die weermag gemobiliseer word as gevolg van die konflik in Donetsk en Loehansk. Witali Sjalaiko was ’n soldaat in die Oekraïense weermag, maar hy is nou een van Jehovah se Getuies. Toe hulle hom opgeroep het, het hy gesê dat hy as gevolg van sy gewete nie aan oorlog sal deelneem nie. Op 23 Junie 2015 het Oekraïne se Gespesialiseerde Hoër Hof vir Burgerlike en Strafsake Witali se reg erken om nie aan militêre diens deel te neem nie selfs gedurende mobilisasie. Duisende ander Getuies in Oekraïne het dieselfde standpunt ingeneem.